Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 10:1-14 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. “Destyds het die Here vir my gesê: ‘Kap vir jou twee plat klippe soos die voriges en klim die berg uit na My toe. Maak ook 'n ark van hout.

2. Ek sal op die klippe die gebooie skryf wat op die voriges was wat jy stukkend gegooi het. Dan moet jy die twee plat klippe in die ark sit.’

3. “Ek het die ark van doringhout gemaak en ek het twee plat klippe soos die voriges gekap. Toe het ek teen die berg uitgeklim met die twee plat klippe in my hand.

4. Die Here het in dieselfde skrif as tevore die tien gebooie geskryf wat Hy op die berg, die dag toe die volk bymekaargekom het, uit die vuur uit vir julle gegee het. Daarna het Hy die twee plat klippe vir my gegee.

5. Toe het ek van die berg af gekom en soos die Here my beveel het, het ek die plat klippe in die ark gesit wat ek gemaak het. Hulle is nog daar.”

6. “Die Israeliete het weggetrek van die putte van Bene-Jaäkan af na Moserot toe. Daar is Aäron oorlede, en daar is hy begrawe. Sy seun Eleasar het toe in sy plek priester geword.

7. Van daar af het hulle na Gor-Gidgad toe getrek en van daar af na Jotbata toe, 'n waterryke gebied.

8. Destyds het die Here die Levistam afgesonder om die verbondsark van die Here te dra, om in sy teenwoordigheid diens te doen en sy dienaars te wees, en om die volk in die Naam van die Here te seën. En so is dit vandag nog.

9. Daarom het die Leviete nie 'n eie grondgebied tussen hulle volksgenote gekry nie, want Levi ontvang van wat die Here self toekom, soos die Here jou God hom beloof het.”

10. Moses het verder gesê: “Soos die eerste keer het ek veertig dae en nagte op die berg gebly. Ook hierdie keer het die Here na my geluister. Hy wou jou nie meer uitroei nie.

11. Toe het Hy vir my gesê: ‘Jy moet die volk laat wegtrek en hulle lei sodat hulle die land kan binnegaan en in besit neem. Dit is die land wat Ek met 'n eed aan hulle voorvaders beloof het om aan hulle te gee.’

12. “En nou, Israel, die Here jou God vra net dat jy Hom moet eer, sy wil moet gehoorsaam, Hom moet liefhê en dien met hart en siel.

13. Gehoorsaam die gebooie en voorskrifte wat die Here jou vandag deur my gee. Dit sal tot jou voordeel wees.

14. Die hemel, selfs die hoogste hemel, behoort aan die Here jou God, ook die aarde en alles daarop.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 10