Ou Testament

Nuwe Testament

Daniël 6:2-19 Afrikaans 1983 (AFR83)

2. Hy het besluit om honderd en twintig goewerneurs-generaal aan te stel om oor sy hele koninkryk te regeer.

3. Oor hulle was daar drie ministers, van wie Daniël een was en aan wie die goewerneurs-generaal verantwoordelik was sodat die koning se belange behoorlik behartig kon word.

4. Hierdie Daniël het deur sy buitengewone bekwaamheid so uitgeblink bo die ander ministers en die goewerneurs-generaal dat die koning van plan was om hom oor die hele koninkryk aan te stel.

5. Die ministers en die goewerneurs-generaal het toe iets teen Daniël probeer kry oor die manier waarop hy die administrasie behartig het, maar hulle kon nie. Hulle kon ook geen onreëlmatigheid vind nie, want Daniël was betroubaar en was aan geen nalatigheid of onreëlmatigheid skuldig nie.

6. Hulle sê toe vir mekaar: “Ons sal niks teen hierdie Daniël kry nie, behalwe as ons iets kan kry in verband met sy godsdiens.”

7. Die ministers en die goewerneurs-generaal storm toe by die koning in en sê vir hom: “Mag die koning baie lank lewe!

8. Al u ministers en al die goewerneurs, goewerneurs-generaal, raadgewers en administrateurs het met mekaar ooreengekom dat daar 'n koninklike dekreet uitgevaardig moet word. Die dekreet moet baie streng bepaal dat enigiemand wat gedurende dertig dae enige god of mens aanbid behalwe vir u, U Majesteit, in 'n leeukuil gegooi moet word.

9. Stel dan nou so 'n dekreet op en vaardig dit skriftelik uit sodat dit nie verander kan word nie; dit moet onherroeplik wees, 'n wet van Mediërs en Perse.”

10. Koning Darius het toe so 'n dekreet uitgevaardig.

11. Toe Daniël hoor dat die dekreet uitgevaardig is, het hy na sy huis toe gegaan. Sy dakkamer se venster het na Jerusalem se kant toe gekyk en soos sy gewoonte altyd was, het Daniël voortgegaan om drie maal per dag voor sy God te kniel en Hom te prys, te aanbid en te dank.

12. Daniël se vyande het in sy huis ingestorm en hom daar gekry waar hy sy God aanbid en Hom om genade smeek.

13. Toe gaan hulle na die koning toe en hou die koninklike dekreet aan hom voor. “U het tog mos 'n dekreet uitgevaardig dat enigiemand wat gedurende dertig dae enige god of mens aanbid, behalwe vir u, U Majesteit, in 'n leeukuil gegooi moet word.”Die koning het geantwoord: “Ja, en dit staan vas. Dit is 'n onherroeplike wet, 'n wet van Mediërs en Perse.”

14. Toe sê hulle vir die koning: “Maar Daniël, een van die Joodse ballinge, steur hom nie aan u bevel en aan die dekreet wat u uitgevaardig het nie, U Majesteit! Hy bid nog drie maal per dag tot sy God.”

15. Toe die koning dit hoor, het hy baie sleg gevoel. Hy het 'n plan probeer maak om Daniël te red, en toe die son ondergaan, het hy nog steeds geprobeer.

16. Toe storm Daniël se vyande weer by die koning in en sê vir hom: “U Majesteit besef seker dat volgens die reg van die Mediërs en Perse geen dekreet of wet wat deur die koning uitgevaardig is, verander mag word nie.”

17. Die koning moes toe die bevel gee, en Daniël is gebring en in 'n leeukuil gegooi. Die koning het vir Daniël gesê: “Mag jou God wat jy met soveel volharding dien, jou red.”

18. Daar is 'n klip gebring en op die opening van die leeukuil gesit. Die koning het die opening verseël met sy seëlring en met dié van sy hoofamptenare sodat daar niks aan Daniël se lot verander sou kon word nie.

19. Die koning is na sy paleis toe en het 'n slaaplose nag deurgebring; hy het niks geëet nie en het niks gedoen om die tyd te probeer verdryf nie.

Lees volledige hoofstuk Daniël 6