Ou Testament

Nuwe Testament

Daniël 4:22-37 Afrikaans 1983 (AFR83)

22. die boom is u, U Majesteit. U het groot en sterk geword, u grootheid raak selfs aan die hemel, u mag strek oor die hele aarde.

23. U Majesteit het 'n wag, 'n engel, uit die hemel uit sien afkom, en hy het gesê: ‘Kap af die boom en verwoes dit, maar bind 'n yster- en 'n bronsband om sy stomp en laat dit in die grond bly saam met die gras in die veld. Nebukadnesar moet snags deur die dou natgemaak word en van plante leef saam met die wilde diere. Dit moet sewe tydperke lank oor hom kom.’

24. “Dit is die uitleg, U Majesteit, dit is die besluit van die Allerhoogste oor u:

25. U sal uit die menslike samelewing uitgestoot word en saam met die wilde diere moet leef. U sal moet gras eet soos beeste en u sal snags deur die dou natgemaak word. Dit sal sewe tydperke lank oor u kom. Dan sal u moet erken dat die Allerhoogste mag het oor al die koninkryke op aarde en dit gee aan wie Hy wil.

26. Die bevel dat die boom se stomp in die grond moet bly, beteken dat u koningskap herstel sal word sodra u erken dat die Hemel regeer.

27. Daarom, U Majesteit, luister na my raad: breek met u sonde en u ongeregtigheid, doen wat reg is en bewys barmhartigheid teenoor dié wat in nood is. Dan sal u voorspoed aanhou.”

28. Maar alles het oor koning Nebukadnesar gekom.

29. Na twaalf maande, terwyl hy op die dak van die paleis geloop het,

30. het hy gesê: “Kyk net hoe groot is Babel! Deur my groot mag het ek daarvan 'n koningstad gemaak, tot my eer en roem.”

31. Sy woorde was nog nie koud nie toe kom daar 'n stem uit die hemel: “Daar is besluit, koning Nebukadnesar, dat jy uit jou koningskap onthef gaan word.

32. Jy sal uit die menslike samelewing uitgestoot word en saam met die wilde diere moet leef en gras moet eet soos beeste. Dit sal sewe tydperke lank oor jou kom. Dan sal jy moet erken dat die Allerhoogste mag het oor die koninkryke op aarde en dit gee aan wie Hy wil.”

33. Op dieselfde oomblik het oor Nebukadnesar gekom wat oor hom gesê is. Hy is uit die menslike samelewing uitgestoot en moes gras eet soos beeste. Hy is snags deur die dou van die hemel natgemaak, en sy hare het so lank geword soos die vere van 'n arend en sy naels soos dié van 'n voël.

34. “Toe die vasgestelde tyd verby was, het ek, Nebukadnesar, na die hemel opgekyk om hulp en het ek my verstand teruggekry. Ek het die Allerhoogste geprys, ek het Hom wat ewig leef, geloof en geëer. Aan sy heerskappy is daar geen einde nie, sy koninkryk bestaan oor al die geslagte heen.

35. Teenoor Hom is al die bewoners van die aarde soos niks; Hy doen soos Hy besluit met die hemelse magte en met die mense op aarde. Daar is niemand wat Hom daarvan kan weerhou en vir Hom kan sê: ‘Wat doen U?’ nie.

36. “Ek het in dié tyd my verstand teruggekry, en my koninklike waardigheid, my eer en majesteit is aan my teruggegee. My raadgewers en hoofamptenare het my opgesoek, my koningskap is herstel en ek het selfs meer mag gekry as tevore.

37. Ek, Nebukadnesar, prys en eer en loof die Koning van die hemel. Alles wat Hy doen, is reg, sy optrede is regverdig. Hy het die mag om hoogmoediges te verneder.”

Lees volledige hoofstuk Daniël 4