Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 2:17-30 Afrikaans 1983 (AFR83)

17. Daardie dag het daar toe 'n hewige geveg ontwikkel, en Abner en die manskappe van Israel is deur Dawid se soldate verslaan.

18. Seruja se drie seuns, Joab, Abisai en Asael, was ook daar. Asael was vinnig soos 'n wildsbok.

19. Hy het Abner agternagesit en knaend op sy spoor gebly.

20. Abner het vir hom oor sy skouer gevra: “Is dit jy, Asael?”“Ja, dis ek,” was die antwoord.

21. Abner sê toe vir hom: “As jy agter 'n uitrusting aan is, draai weg in enige rigting, oorrompel enige jong soldaat en vat syne.”Maar hy wou nie wegdraai nie.

22. Abner het weer vir hom gesê: “Gee pad agter my! Waarom moet ek jou doodmaak? Hoe sal ek jou broer Joab in die oë kan kyk?”

23. Maar hy het bly weier om weg te draai. Toe steek Abner hom sommer na agter toe met die spies in die maag, sodat dit by sy rug uitkom. Asael het net daar in sy spore dood neergesak. Elkeen wat op die plek gekom het waar hy geval het, het 'n oomblik gaan staan.

24. Daarna het Joab en Abisai vir Abner agternagesit. Sononder het hulle by die Elmboogrant aangekom, regoor die fontein langs die pad na Gibeon se weiveld toe.

25. Die Benjaminiete het almal bo-op die rant gestaan en in 'n bondel agter Abner saamgedrom.

26. Toe skreeu Abner vir Joab: “Moet die swaard aanhou verteer? Besef jy nie dat die uiteinde net bitterheid is nie? Wanneer gaan jy eendag die manskappe beveel om nie meer hulle broers te agtervolg nie?”

27. Joab het geantwoord: “Waarlik, God weet dit, as jy nie nou gepraat het nie, sou ons die volk tot môreoggend laat veg het, en dit nogal broer teen broer.”

28. Toe het Joab die ramshoring geblaas. Al die manskappe het gaan staan en Israel nie meer agtervolg nie en hulle het nie verder geveg nie.

29. Abner en sy manskappe het die nag deur met die Jordaanvallei langs getrek. Hulle het die Jordaan oorgesteek en Maganajim al met die Bitronloop langs bereik.

30. Joab het die agtervolging van Abner gestaak en die manskappe bymekaargeroep. Toe hulle Dawid se soldate tel, was daar behalwe Asael nog negentien man kort.

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 2