Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 19:7-20 Afrikaans 1983 (AFR83)

7. Kom nou, gaan stel u manskappe tevrede. Ek verklaar voor die Here: As u nie buitetoe gaan nie, sal daar vannag nie 'n enkele man by u oorbly nie. Dit sal vir u 'n groter ramp wees as enige ramp wat u in u hele lewe getref het.”

8. Die koning het toe buitetoe gegaan en in die stadspoort gaan sit. Daar is toe aan al die manskappe vertel: “Kom kyk, die koning sit in die stadspoort.”Toe het al die manskappe van die koning voor hom verskyn. Israel het intussen huis toe gevlug.

9. Daarna het die manne van die Israelitiese stamme onder mekaar begin praat: “Dit is die kóning deur wie ons gered is uit die mag van ons vyande; hý het ons bevry uit die greep van die Filistyne, en nou moes hy die land uit vlug voor Absalom.

10. Buitendien is Absalom vir wie ons tot koning gesalf het, in die geveg dood. Waarom talm julle nog om die koning te laat terugkom?”

11. Hierdie gevoel onder Israel het by Dawid en sy mense uitgekom.Daarna het die koning vir die priesters, Sadok en Abjatar, laat weet: “Praat met die leiers van Juda en vra: Waarom moet julle nou die laaste wees om die koning na sy paleis toe te laat terugkom?

12. Julle is my broers, ja, julle is my mense. Waarom moet julle nou die laaste wees om die koning te laat terugkom?

13. Sê vir Amasa ek sê: Is jy nie my eie bloedfamilie nie? Mag God my om die lewe bring as jy nie vir altyd die hoof van my leër word in die plek van Joab nie.”

14. So het hy die hele Juda soos een man na sy kant toe oorgehaal, en hulle het die koning laat weet: “Kom terug! U en al u manskappe!”

15. Die koning is toe terug, en terwyl hy op pad was na die Jordaan toe, het Juda by Gilgal bymekaargekom om hom te ontmoet en oor die Jordaan te help.

16. Simeï seun van Gera, die Benjaminiet van die stad Bagurim, het haastig saam met Juda afgegaan om koning Dawid te ontmoet.

17. By hom was 'n afdeling soldate uit Benjamin, en verder ook Siba, die bestuurder van Saul se huishouding, met sy vyftien seuns en twintig slawe. Hulle het voor die koning by die Jordaan aangekom.

18. Hulle het deur die drif gegaan om die geselskap van die koning deur te bring en om te doen wat die koning wou hê.Net toe die koning die Jordaan wou deurtrek, kniel Simeï seun van Gera voor hom

19. en sê: “U Majesteit moet my die verkeerde daad tog nie toereken nie en moenie wat ek verkeerd gedoen het op die dag toe die koning uit Jerusalem uit gegaan het, ernstig opneem nie.

20. Ek weet baie goed dat ek sleg opgetree het, maar let tog op dat ek vandag die heel eerste uit die huis van Josef is wat die koning kom ontmoet.”

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 19