Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 9:12-21 Afrikaans 1983 (AFR83)

12. Vir die koningin van Skeba het koning Salomo alles gegee wat sy begeer en gevra het, meer selfs as wat sy vir die koning gebring het. Sy is toe terug na haar land toe, sy en haar gevolg.

13. Salomo se jaarlikse inkomste aan goud het sowat drie en twintig ton beloop.

14. Behalwe wat die reisigers en handelaars ingebring het, het al die konings van Arabië en die Israelitiese goewerneurs ook goud en silwer aan Salomo gelewer.

15. Koning Salomo het twee honderd groot skilde van goud gemaak; hy het vir elke skild byna sewe kilogram gebruik.

16. Hy het ook nog drie honderd klein skilde van goud gemaak; hier het hy sowat drie en 'n half kilogram vir elke skild gebruik. Die koning het hulle opgestel in die Libanonsbosgebou.

17. Verder het die koning 'n groot ivoortroon gemaak en dit met suiwer goud oorgetrek.

18. Die troon het ses trappe gehad en 'n voetbank wat met goud aan die troon vasgeheg was. Weerskante van die sitplek was daar armleunings, met 'n leeu langs elkeen.

19. Twaalf leeus het op die ses trappe gestaan, ses aan elke kant. Daar is in geen ander koninkryk so iets gemaak nie.

20. Al koning Salomo se drinkgerei was van goud. Alles wat in die Libanonsbosgebou gebruik is, was van fyngoud. Silwer is in Salomo se dae nie as iets besonders beskou nie.

21. Die koning het 'n vloot gehad wat saam met die dienaars van Hiram na Tarsis toe gevaar het. Om die drie jaar het die Tarsisvloot teruggekom, vol goud en silwer, ivoor, ape en bobbejane.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 9