Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 7:1-7 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Toe Salomo klaar gebid het, het daar vuur uit die hemel gekom en die brandoffers en ander diereoffers verteer, en die magtige teenwoordigheid van die Here het die tempel gevul.

2. Die priesters kon nie in die huis van die Here ingaan nie, so het sy magtige teenwoordigheid sy huis gevul.

3. Toe al die Israeliete sien dat die vuur en die magtige teenwoordigheid van die Here op die tempel af kom, het hulle op die plaveisel gekniel. Hulle het in eerbetoon gebuig en die Here geloof: “Want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie.”

4. Die koning en die hele volk het vir die Here offerandes gebring.

5. Koning Salomo het twee en twintig duisend beeste en honderd en twintig duisend stuks kleinvee geoffer. So het die koning en die hele volk die tempel van God ingewy.

6. Die priesters het op hulle poste gestaan en so ook die Leviete met die instrumente vir die lied tot die eer van die Here. Koning Dawid het die instrumente laat maak om die Here te loof: “Aan sy liefde is daar geen einde nie.” So was die lofsang van Dawid in die Leviete se hande. Regoor hulle het die priesters die trompette geblaas en die hele Israel het daar gestaan.

7. Salomo het die middelgedeelte van die voorhof wat reg voor die huis van die Here is, gewy, want dit is waar hy die brandoffers en die vetgedeeltes van die maaltydoffers verbrand het. Op die bronsaltaar wat hy gemaak het, was daar nie plek vir die brandoffers en die graanoffers en die vetgedeeltes nie.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 7