Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 36:1-14 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Die burgers van die land het Josia se seun Joahas geneem en hom koning in Jerusalem gemaak in sy pa se plek.

2. Joahas was drie en twintig toe hy koning geword het en het drie maande in Jerusalem geregeer.

3. Die koning van Egipte het vir Joahas afgesit as koning in Jerusalem en die land beboet met drie en 'n halwe ton silwer en vier en dertig kilogram goud.

4. Daarna het die Egiptiese koning vir Eljakim, Joahas se broer, koning gemaak oor Juda en Jerusalem, en sy naam verander na Jojakim. Neko het vir Joahas, Jojakim se broer, saamgevat Egipte toe.

5. Jojakim was vyf en twintig toe hy koning geword het en het elf jaar in Jerusalem geregeer. Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here sy God.

6. Koning Nebukadnesar van Babel het vir Jojakim aangeval en hom geboei met bronskettings om hom na Babel toe te vat.

7. Nebukadnesar het van die goed in die huis van die Here ook na Babel toe gevat en dit in sy tempel in Babel gesit.

8. Die ander verhale oor Jojakim, die afskuwelike dinge wat hy gedoen het en wat met hom gebeur het, is opgeteken in Die Boek van die Konings van Israel en Juda. Sy seun Jojagin het hom as koning opgevolg.

9. Jojagin was agtien jaar toe hy koning geword het en het drie maande en tien dae in Jerusalem geregeer. Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here.

10. Met die wisseling van die jaar het koning Nebukadnesar hom na Babel toe laat haal saam met die kosbare goed in die huis van die Here, en sy broer Sedekia koning oor Juda in Jerusalem gemaak.

11. Sedekia was een en twintig toe hy koning geword het en het elf jaar in Jerusalem geregeer.

12. Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here sy God. Hy het nie berou getoon toe die profeet Jeremia hom op bevel van die Here aangespreek het nie.

13. Ook teen koning Nebukadnesar, aan wie hy voor God trou gesweer het, het hy hom verset. Hy was koppig en onversetlik in sy weiering om hom tot die Here die God van Israel te bekeer.

14. Al die leiers van die priesters en die volk het ook weer in groot troueloosheid verval na die voorbeeld van die afskuwelike optrede van die heidennasies, en hulle het die huis van die Here wat Hy in Jerusalem geheilig het, ontwy.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 36