Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 34:10-20 Afrikaans 1983 (AFR83)

10. Die geld is toe gegee aan die mense wat vir die werk aan die tempel moes sorg en dié het dit gebruik vir die heropbou en herstel van die gebou.

11. Hulle het die geld vir die vakmanne en bouwerkers gegee om gekapte klip en balke te koop en die vertrekke wat onder die konings van Juda in verval geraak het, weer op te bou.

12. Die manne het die werk met groot sorg uitgevoer. Die opsigters oor hulle was die Leviete Jagat en Obadja uit die Merarigroep, en Sagaria en Mesullam uit die Kehatgroep. Die Leviete was mense wat almal bedrewe was in die speel van musiekinstrumente,

13. maar hulle het ook toesig gehou oor die draers en het leiding gegee aan elkeen wat 'n taak moes uitvoer, in watter soort werk ook al. Ook die administratiewe amptenare, die regsbeamptes en die poortwagte was Leviete.

14. Terwyl hulle die geld wat vir die huis van die Here ingebring is, uitgehaal het, het die priester Gilkija die boek gekry met die wet van die Here wat deur bemiddeling van Moses aan Israel gegee is.

15. Gilkija het toe vir die staatsekretaris Safan gesê: “Ek het die wetboek in die tempel gekry.”Hy het die wetboek aan Safan oorhandig,

16. en Safan het dit na die koning toe geneem en ook aan die koning verslag gedoen: “Alles wat aan u amptenare opgedra is, is gedoen;

17. die geld wat in die tempel beskikbaar was, is uitgetel en oorhandig aan die opsigters en aan die mense wat die werk moet uitvoer.”

18. Die staatsekretaris Safan het ook aan die koning die mededeling gedoen: “Die priester Gilkija het my 'n boek gegee,” en Safan het vir die koning gelees wat daarin staan.

19. Toe die koning hoor wat die wet sê, het hy sy klere geskeur

20. en opdrag gegee aan Gilkija, aan Agikam seun van Safan, aan Akbor seun van Miga, aan die staatsekretaris Safan en aan Asaja, die hoofamptenaar van die koning:

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 34