Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 31:12-21 Afrikaans 1983 (AFR83)

12. Die offergawes, die tiendes en die gewyde gawes het getrou ingekom. Die Leviet Kenanja moes daaroor toesig hou, en sy ampsgenoot Simi was tweede in bevel.

13. Die amptenare tot beskikking van Kenanja en sy ampsgenoot Simi was Jegiël, Asasja, Nagat, Asael, Jerimot, Josabad, Eliël, Jismakja, Magat en Benaja. So het koning Hiskia en die hoof van die tempel, Asarja, dit gereël.

14. Die toesig oor die vrywillige gawes aan God en oor die uitdeling van die offergawes van die Here en van die besondere gewyde gawes was in die hande van die Leviet Kore seun van Jimna, die wag by die Oospoort.

15. Hy is bygestaan deur Eden, Minjamin, Jesua, Semaja, Amarja en Sekanja, en hulle moes in die priesterkwartiere op 'n billike wyse die toewysings aan hulle ampsgenote in die afdelings doen, aan groot en klein.

16. Daarnaas het hulle ook toewysings gedoen aan die seuntjies van drie jaar en ouer wat in die register opgeneem is, almal wat een of ander tyd in die tempel sou kom vir die tempeldiens en die wagbeurte binne hulle afdelings, soos dit van dag tot dag nodig sou wees.

17. Die priesters is familiegewys in die register opgeneem, en van die Leviete dié van twintig jaar en ouer volgens diensbeurt en afdeling.

18. Al hulle afhanklikes is ook in die register opgeneem: die vrouens, die seuns en die dogters van die hele tempelgemeenskap. Die priesters en die Leviete het hulle getrou gereinig met die oog op die diens in die heiligdom.

19. Ook die Aäronitiese priesters in die weigebiede van die stede is versorg. In elke stad is mense by die naam aangewys om al die manlike lede van die priesterfamilies en al die Leviete wat in die register opgeneem was, hulle deel te laat kry.

20. So het Hiskia dwarsdeur Juda gedoen. Hy het gedoen wat goed en reg en eerbaar is in die oë van die Here sy God.

21. In alles wat hy onderneem het ter bevordering van die tempeldiens en die gehoorsaamheid aan wet en gebod, het hy met sy hele hart gevra na die wil van sy God, en daarom was hy voorspoedig.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 31