Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 29:13-25 Afrikaans 1983 (AFR83)

13. uit die Elisafangroep Simri en Jeïel; uit die Asafgroep Sagaria en Mattanja;

14. uit die Hemangroep Jegiël en Simi; en uit die Jedutungroep Semaja en Ussiël.

15. Hulle het hulle ampsgenote bymekaargeroep, almal het hulle gereinig en het toe die huis van die Here gaan skoonmaak soos die koning beveel het in ooreenstemming met die voorskrifte van die Here.

16. Die priesters het die huis van die Here binne gaan skoonmaak. Hulle het alles wat nie rein was nie, wat hulle in die tempel van die Here gekry het, na die voorhof toe uitgebring, en die Leviete het dit gevat en dit buite in die Kedrondal gaan weggooi.

17. Hulle het met die reiniging begin op die eerste dag van die eerste maand, en op die agste dag van die maand het hulle by die ingangsportaal van die Here uitgekom. Daarna het dit hulle nog ag dae gekos om die huis van die Here te reinig. Op die sestiende dag van die eerste maand was hulle klaar.

18. Toe het hulle by koning Hiskia in die paleis verslag gaan doen: “Ons het die hele huis van die Here gereinig, ook die brandofferaltaar met sy toebehore en die tafel vir die offerbrood met sy toebehore,

19. en ons het verder al die goed wat koning Agas in sy regeringstyd ontwy laat raak het deur sy troueloosheid, in hulle oorspronklike staat herstel en gewy. Hulle is daar voor die altaar van die Here.”

20. Die volgende môre vroeg het koning Hiskia al die stadsamptenare laat bymekaarkom en is hy na die huis van die Here toe.

21. Hulle het sewe jong bulle, sewe skaapramme, sewe lammers en sewe bokramme gebring as sondeoffers vir die koningskap, die heiligdom en Juda. Die koning het die priesters uit die geslag van Aäron beveel om die offerandes op die altaar van die Here te sit.

22. Die priesters het die beeste geslag, die bloed opgevang en dit oor die altaar gesprinkel. Daarna het hulle die skape geslag en die bloed oor die altaar gesprinkel. Daarna het hulle die lammers geslag en die bloed ook oor die altaar gesprinkel.

23. Toe het hulle die sondeofferbokke voor die koning en die gemeente gebring en hulle hande op die diere gelê,

24. en daarna het die priesters hulle geslag en die bloed as 'n sondeoffer uitgegiet op die altaar om vir die hele Israel versoening te doen. Die koning het bepaal dat die brandoffer en die sondeoffer vir die hele Israel moes wees.

25. Die koning het die Leviete plek laat neem met simbale, harpe en liere in die huis van die Here volgens die opdrag van Dawid en van Gad, die siener van koning Dawid, en van die profeet Natan, want dit was 'n opdrag wat van die Here self gekom het deur middel van sy profete.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 29