Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 28:16-26 Afrikaans 1983 (AFR83)

16. In dié tyd het koning Agas laat hulp vra by die konings van Assirië.

17. Die Edomiete het weer gekom en Juda verslaan en gevangenes weggevoer.

18. Die Filistyne het deur die Laeveld en die Suidland van Juda 'n strooptog gemaak en selfs stede beset en daar gaan woon: Bet-Semes, Ajalon, Gederot, Soko met sy buitedorpe, Timna met sy buitedorpe, Gimso met sy buitedorpe.

19. Dit was oor koning Agas van Juda dat die Here Juda dié vernedering aangedoen het, want Agas het die verdorwenheid in Juda vrye teuels gegee en hy was ontrou teenoor die Here.

20. Koning Tiglat-Pileser van Assirië het opgetrek, maar téén Agas. Hy het Agas nie kom help nie, maar sake vir hom nog moeiliker gemaak.

21. Agas het van die huis van die Here, die paleis en die amptenare goud gevat en dit vir die koning van Assirië gegee, maar dit het hom niks gehelp nie.

22. Toe dit so sleg met hom gaan, was hy, dié koning Agas, nog verder ontrou teenoor die Here.

23. Hy het offerandes gebring vir die gode van Damaskus wat hom verslaan het, met die redenasie: “Die gode van Aramese konings het hulle gehelp; nou bring ek vir daardie gode offerandes dat hulle my ook kan help.”Maar dié gode het sy val en dié van die hele Israel verhaas.

24. Agas het die goed wat in die tempel gebruik is, weggevat en stukkend geslaan, die deure van die huis van die Here gesluit en op elke hoek in Jerusalem altare gebou.

25. In elke stad van Juda het hy hoogtes ingerig om vreemde gode met offerandes te vereer. So het hy die Here, die God van sy voorvaders, uitgetart.

26. Die ander verhale oor Agas en sy hele lewensloop, dié van vroeër en dié van later, is opgeteken in die annale van die konings van Juda en Israel.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 28