Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 28:13-22 Afrikaans 1983 (AFR83)

13. en vir hulle gesê: “Julle bring nie die gevangenes hier in nie. Wat julle wil doen, is 'n misdaad teen die Here en sal ons sondes en misdade teen Hom groter maak. Dit is alreeds groot, en sy toorn hang oor Israel.”

14. Die manskappe het toe afstand gedoen van die gevangenes en die buit, met die leiers en die hele volk as getuies.

15. Die manne wie se name genoem is, het toe die gevangenes onder hulle sorg geneem. Hulle het uit die buit klere geneem vir almal wat nie klere gehad het nie, die gevangenes voorsien van klere, skoene, kos en water, salf aan hulle wonde gesmeer, almal wat nie kon loop nie, op donkies gehelp en hulle weggebring na Jerigo die palmstad toe, by hulle volksgenote. Daarna is die manne terug Samaria toe.

16. In dié tyd het koning Agas laat hulp vra by die konings van Assirië.

17. Die Edomiete het weer gekom en Juda verslaan en gevangenes weggevoer.

18. Die Filistyne het deur die Laeveld en die Suidland van Juda 'n strooptog gemaak en selfs stede beset en daar gaan woon: Bet-Semes, Ajalon, Gederot, Soko met sy buitedorpe, Timna met sy buitedorpe, Gimso met sy buitedorpe.

19. Dit was oor koning Agas van Juda dat die Here Juda dié vernedering aangedoen het, want Agas het die verdorwenheid in Juda vrye teuels gegee en hy was ontrou teenoor die Here.

20. Koning Tiglat-Pileser van Assirië het opgetrek, maar téén Agas. Hy het Agas nie kom help nie, maar sake vir hom nog moeiliker gemaak.

21. Agas het van die huis van die Here, die paleis en die amptenare goud gevat en dit vir die koning van Assirië gegee, maar dit het hom niks gehelp nie.

22. Toe dit so sleg met hom gaan, was hy, dié koning Agas, nog verder ontrou teenoor die Here.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 28