Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 25:10-14 Afrikaans 1983 (AFR83)

10. Amasia het toe die leërafdeling wat uit Efraim by hom aangesluit het, ontslaan en huis toe laat gaan. Hulle was bitter kwaad vir Juda en is woedend terug huis toe.

11. Daarna het Amasia die nodige moed bymekaargeskraap en sy manne na die Soutvlakte toe gelei waar hy tien duisend Edomiete verslaan het.

12. Bowendien het die manne van Juda nog tien duisend lewendig gevange geneem, hulle bo op 'n krans gebring en hulle daar afgegooi. Almal het hulle te pletter geval.

13. Intussen het die lede van die leërafdeling wat deur Amasia teruggestuur is sodat hulle nie saam met hom op die veldtog kon gaan nie, 'n strooptog teen die stede van Juda gemaak, van Samaria af tot by Bet-Goron. Hulle het drie duisend mense doodgemaak en baie buit weggedra.

14. Toe Amasia van sy oorwinning oor die Edomiete af terugkom, het hy hulle afgodsbeelde saamgebring en die beelde vir homself opgestel as gode. Hy het hulle vereer en vir hulle offerandes gebring.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 25