Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 23:7-18 Afrikaans 1983 (AFR83)

7. Die Leviete moet om die koning wees, elkeen met sy wapen in sy hand. Enigiemand anders wat in die tempel wil ingaan, moet doodgemaak word. Bly by die koning, oral waar hy gaan.”

8. Die Leviete en die hele Juda het alles gedoen wat die priester Jojada beveel het. Elkeen het sy manne geneem, dié wat op die sabbat diens moes doen sowel as dié wat klaar was met hulle diens, want die priester Jojada het nie die priesterafdelings laat verdaag nie.

9. Daarna het Jojada die spiese en die groot skilde en die klein ronde skilde wat nog aan koning Dawid behoort het en in die tempel van God was, aan die bevelhebbers oor honderd uitgedeel.

10. Hy het al die manne, elkeen met sy spies in die hand, om die koning laat staan, naby die altaar en die tempel, van die suidekant tot by die noordekant van die tempel.

11. Toe bring hulle die seun van die koning vorentoe en kroon hom en oorhandig aan hom die koninklike volmag. So het hulle hom koning gemaak. Jojada en sy seuns het hom gesalf en geroep: “Lank lewe die koning!”

12. Atalia het gehoor hoe die mense hardloop en die koning huldig, en het ook na die huis van die Here toe gegaan waar hulle was.

13. Daar sien sy toe die koning staan op sy plek by die ingang, en die volksleiers en die trompetblasers by hom, en al die burgers van die land wat juig en trompette blaas, en die sangers met hulle musiekinstrumente wat die jubelsang lei. Toe skeur Atalia haar klere en skreeu: “Verraad! Verraad!”

14. Die priester Jojada stuur toe die bevelhebbers oor honderd wat in beheer van die manskappe was, en sê vir hulle: “Bring haar uit die tempel uit! Elkeen wat agter haar aan gaan, moet doodgemaak word. Sy mag nie in die huis van die Here sterf nie.”

15. Hulle het haar gegryp en haar na die Perdepoort by die paleis gevat en haar daar doodgemaak.

16. Jojada het met die volk en die koning 'n verbond gemaak dat hulle 'n volk sal wees wat die Here dien.

17. Daarna het die hele volk na die Baälstempel toe gegaan en dit verwoes. Hulle het die altare en die beelde stukkend geslaan en vir Mattan, die Baälspriester, by die altare doodgeslaan.

18. Jojada het die toesig oor die huis van die Here weer toevertrou aan die priesters en die Leviete wat deur Dawid daarvoor aangewys is. Hulle moes die brandoffers vir die Here bring soos dit voorgeskryf is in die wet van Moses, met gejuig en met sang soos Dawid dit gereël het.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 23