Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 1:7-15 Afrikaans 1983 (AFR83)

7. Daardie nag het God aan Salomo verskyn en vir hom gesê: “Vra wat Ek jou moet gee.”

8. Salomo sê toe vir God: “U het groot trou aan my vader Dawid bewys en my in sy plek koning gemaak.

9. Vervul nou, Here God, u belofte aan my vader Dawid, want U het my koning gemaak oor 'n volk so baie soos die stof van die aarde.

10. Gee my nou wysheid en kennis dat ek hierdie volk reg kan lei, want wie kan uit homself hierdie groot volk van U regeer?”

11. God het vir Salomo geantwoord: “Omdat jy dít besluit het en jy nie rykdom, besittings, aansien of jou vyande se lewens gevra het nie, en ook nie 'n lang leeftyd nie, maar wysheid en kennis waarmee jy my volk oor wie Ek jou koning gemaak het, kan regeer,

12. daarom word die wysheid en kennis aan jou geskenk. Maar Ek gee jou bowendien rykdom, besittings en aansien soos die konings voor jou nie gehad het nie en dié ná jou ook nie sal hê nie.”

13. Daarna het Salomo van die hoogte in Gibeon af, van die tent van ontmoeting af, na Jerusalem toe teruggegaan. Hy was nou koning oor die hele Israel.

14. Koning Salomo het 'n mag van strydwaens en perde opgebou. Hy het veertien honderd strydwaens en twaalf duisend perde besit, waarvan hy party in strydwaposte en ander by die paleis in Jerusalem gestasioneer het.

15. Die koning het goud en silwer in Jerusalem so volop gemaak soos klippe, en seders so volop soos wildevyebome in die Laeveld.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 1