Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 6:9-19 Afrikaans 1983 (AFR83)

9. Die man van God het dan aan die koning van Israel die volgende boodskap gestuur: “Pas op dat u nie na daardie plek toe optrek nie, want die Arameërs trek soontoe op.”

10. Gevolglik het die koning van Israel boodskappe deurgestuur na die plek toe wat die man van God aan hom genoem het en hom voor gewaarsku het. Die mense daar was dan keer op keer voorbereid.

11. Die koning van Aram het baie onrustig geword hieroor. Hy het sy offisiere laat roep en vir hulle gesê: “Ek wil van julle weet wie van ons dra nuus oor aan die koning van Israel.”

12. Een van sy offisiere het geantwoord: “Nie een van ons nie, U Majesteit, maar die profeet Elisa daar in Israel kan vir die koning van Israel vertel selfs wat u in u slaapkamer sê.”

13. Die koning van Aram het gesê: “Gaan vind uit waar hy is, dan stuur ek manne om hom te vang.”Die koning is meegedeel: “Hy is in Dotan.”

14. Die koning stuur toe perde, strydwaens en 'n sterk mag daarheen. Hulle het in die nag gekom en die stad omsingel.

15. Die môre vroeg het die slaaf van die man van God opgestaan, en toe hy uitgaan, sien hy 'n leër rondom die stad, met perde en strydwaens. “Ag, Meneer!” sê die slaaf vir Elisa, “wat gaan ons nou maak?”

16. Hy het geantwoord: “Moenie bang wees nie, dié wat by ons is, is meer as wat hulle is.”

17. Elisa het gebid: “Here, maak tog sy oë oop dat hy kan sien.”Die Here het die oë van die slaaf oopgemaak, en hy het gesien: die berge rondom Elisa was vol perde en strydwaens van vuur.

18. Toe die Arameërs op hom afstorm, het Elisa tot die Here gebid: “Slaan tog hierdie mense met blindheid!”Die Here het hulle met blindheid geslaan net soos Elisa gevra het.

19. Elisa sê toe vir hulle: “Dis nie die regte pad nie en dis nie die regte stad hierdie nie. Kom agter my aan, dan lei ek julle tot by die man vir wie julle soek.”Hy het hulle na Samaria toe gelei.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 6