Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 2:1-7 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Die tyd het gekom dat die Here vir Elia in 'n stormwind in die hemel sou opneem.Elia en Elisa het uit Gilgal vertrek,

2. en Elia het vir Elisa gesê: “Bly hier, want die Here stuur my na Bet-El toe.”Elisa se antwoord was: “So seker as die Here leef en u leef, ek sal u nie alleen laat gaan nie.”Hulle is toe na Bet-El toe.

3. Die profete wat in Bet-El was, het na Elisa toe gegaan en hom gevra: “Weet jy dat die Here vandag jou leermeester van jou af gaan wegvat?”Hy het geantwoord: “Ja, ek weet. Moenie daaroor praat nie.”

4. Elia sê toe vir Elisa: “Bly hier, want die Here stuur my na Jerigo toe.”Maar Elisa het geantwoord: “So seker as die Here leef en u leef, ek sal u nie alleen laat gaan nie.”Hulle het saam in Jerigo aangekom.

5. Die profete van Jerigo het na Elisa toe gekom en hom gevra: “Weet jy dat die Here vandag jou leermeester van jou af gaan wegvat?”Hy het geantwoord: “Ja, ek weet. Moenie daaroor praat nie.”

6. Elia sê toe vir hom: “Bly hier, want die Here stuur my na die Jordaan toe.”Maar Elisa het geantwoord: “So seker as die Here leef en u leef, ek sal u nie alleen laat gaan nie.”Hulle twee is toe saam verder.

7. 'n Vyftigtal van die profete is agterna en het op 'n afstand gaan staan regoor die plek waar Elia langs die Jordaan gestaan het.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 2