Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 16:5-15 Afrikaans 1983 (AFR83)

5. Destyds het koning Resin van Aram en koning Peka van Israel, seun van Remalja, opgetrek om teen Jerusalem te veg. Hoewel hulle vir Agas beleër het, kon hulle nie 'n geveg afdwing nie.

6. In daardie tyd het koning Resin van Aram die stad Elat vir Aram herower en die Judeërs daaruit verdryf. Arameërs het in Elat ingetrek en woon tot vandag toe daar.

7. Toe stuur Agas 'n boodskap na koning Tiglat-Pileser van Assirië: “Ek is u onderdaan en seun. Ruk op en bevry my uit die mag van die koning van Aram en van die koning van Israel, hulle val my aan.”

8. Agas het die silwer en die goud wat in die huis van die Here en in die skatkamers van die paleis was, gevat en as geskenk aan die koning van Assirië gestuur.

9. Die koning van Assirië het aan sy versoek voldoen en teen Damaskus opgetrek. Hy het die stad verower en die bevolking na Kir toe weggevoer; vir Resin het hy doodgemaak.

10. Koning Agas het hierna Damaskus toe gegaan om vir koning Tiglat-Pileser van Assirië te ontmoet. Nadat Agas 'n altaar gesien het wat daar in Damaskus gestaan het, het hy aan die priester Urija 'n afbeelding en 'n model daarvan gestuur om dit getrou na te maak.

11. Die priester Urija het die altaar gebou in ooreenstemming met koning Agas se aanwysings uit Damaskus. Die priester Urija het dit presies so gemaak nog voordat die koning uit Damaskus aangekom het.

12. Toe die koning van Damaskus af kom en die altaar sien, het hy nader gegaan en op die altaar geklim.

13. Hy het sy brandoffer en sy graanoffer gebring, sy drankoffer uitgegiet en die bloed van die maaltydoffers ten behoewe van homself teen die altaar uitgegooi.

14. Die bronsaltaar ter ere van die Here het hy van die voorkant van die tempel af, tussen die altaar en die huis van die Here uit, verskuif na die noordekant van die altaar toe.

15. Koning Agas het die priester Urija beveel: “Steek die oggendbrandoffer en die aandgraanoffer aan die brand op die groot altaar en ook die koning se brandoffer en graanoffer, die brandoffer van die landsburgers, hulle graanoffers en hulle drankoffers. Die bloed van elke brandoffer en van elke ander diereoffer moet julle teen die groot altaar uitgiet. Die bronsaltaar sal myne bly om die wil van God te wete te kom.”

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 16