Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 13:9-21 Afrikaans 1983 (AFR83)

9. Joahas is oorlede, en hulle het hom begrawe in Samaria. Sy seun Joas het hom as koning opgevolg.

10. In die sewe en dertigste regeringsjaar van koning Joas van Juda het Joas seun van Joahas in Samaria oor Israel koning geword. Hy het sestien jaar geregeer

11. en gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here. Hy het nie afgesien van enige van die sondes wat Jerobeam seun van Nebat vir Israel laat doen het nie; hy het daarmee volhard.

12. Die ander verhale oor Joas en alles wat hy gedoen het, die dapperheid waarmee hy teen koning Amasia van Juda geveg het, is opgeteken in die annale van die konings van Israel.

13. Toe Joas oorlede is, het Jerobeam op die troon gekom. Joas is in Samaria by die konings van Israel begrawe.

14. Elisa het ernstig siek geword en op sterwe gelê. Koning Joas van Israel het hom gaan besoek en het oor hom gehuil en gesê: “My vader, my vader, u was vir Israel die strydwa met sy ruiters!”

15. Elisa sê toe vir hom: “Vat jou pyl en boog.”Die koning van Israel het dit gedoen, en toe

16. sê Elisa vir hom: “Sit jou hand op die boog.”Die koning het sy hand op die boog gesit. Elisa het toe sy eie hande op die hande van die koning gesit

17. en gesê: “Maak die venster aan die oostekant oop.”Die koning het dit oopgemaak, en Elisa het beveel: “Skiet!”Toe skiet die koning, en Elisa sê: “'n Pyl van die Here se oorwinning, 'n pyl van oorwinning oor Aram! Jy sal Aram verpletterend verslaan in Afek.”

18. Verder sê Elisa: “Vat nou die pyle.”Die koning het hulle gevat, en Elisa sê vir hom: “Slaan teen die grond.” Die koning het drie maal geslaan en opgehou.

19. Die man van God het baie kwaad geword vir die koning en gesê: “Jy moes vyf of ses keer geslaan het, dan sou jy Aram heeltemal verslaan het, maar nou sal jy Aram net drie keer verslaan.”

20. Toe het Elisa gesterf, en hulle het hom begrawe.Moabitiese bendes het elke jaar die land binnegeval.

21. Toe mense op 'n keer besig was om iemand te begrawe, sien hulle skielik so 'n bende. Hulle het die man se lyk in Elisa se graf gegooi. Toe die lyk aan Elisa se bene raak, het die man lewend geword en regop gaan staan.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 13