Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 13:3-16 Afrikaans 1983 (AFR83)

3. Daarom het die Here toornig geword op Israel en hulle gedurende die regering van Joahas oorgegee in die mag van koning Gasael van Aram en in die mag van Ben-Hadad seun van Gasael.

4. Joahas het die Here om genade gesmeek. Die Here het sy gebed verhoor, want die Here het opgemerk hoe wreed die koning van Aram hulle onderdruk het.

5. Die Here het aan Israel 'n redder gegee sodat hulle bevry kon word uit die mag van Aram, en sodat die Israeliete weer soos vroeër in hulle eie huise kon woon.

6. Ten spyte hiervan het hulle nie afgesien van die sonde wat die koningshuis van Jerobeam vir Israel laat doen het nie. Hulle het daarmee volhard. Selfs die Asjerabeeld het in Samaria bly staan.

7. Koning Gasael van Aram het die leër van Joahas vernietig en soos stof vertrap. Gasael het vir Joahas geen manskappe laat oorbly nie, net vyftig ruiters, tien strydwaens en tien duisend voetsoldate.

8. Die ander verhale oor Joahas en alles wat hy gedoen het, en oor sy dapperheid is opgeteken in die annale van die konings van Israel.

9. Joahas is oorlede, en hulle het hom begrawe in Samaria. Sy seun Joas het hom as koning opgevolg.

10. In die sewe en dertigste regeringsjaar van koning Joas van Juda het Joas seun van Joahas in Samaria oor Israel koning geword. Hy het sestien jaar geregeer

11. en gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here. Hy het nie afgesien van enige van die sondes wat Jerobeam seun van Nebat vir Israel laat doen het nie; hy het daarmee volhard.

12. Die ander verhale oor Joas en alles wat hy gedoen het, die dapperheid waarmee hy teen koning Amasia van Juda geveg het, is opgeteken in die annale van die konings van Israel.

13. Toe Joas oorlede is, het Jerobeam op die troon gekom. Joas is in Samaria by die konings van Israel begrawe.

14. Elisa het ernstig siek geword en op sterwe gelê. Koning Joas van Israel het hom gaan besoek en het oor hom gehuil en gesê: “My vader, my vader, u was vir Israel die strydwa met sy ruiters!”

15. Elisa sê toe vir hom: “Vat jou pyl en boog.”Die koning van Israel het dit gedoen, en toe

16. sê Elisa vir hom: “Sit jou hand op die boog.”Die koning het sy hand op die boog gesit. Elisa het toe sy eie hande op die hande van die koning gesit

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 13