Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 11:1-8 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Toe Ahasia se ma Atalia hoor haar seun is dood het sy begin om die hele koningsgeslag uit te roei.

2. Jehoseba, dogter van koning Joram en suster van Ahasia, het egter vir Joas, 'n seun van Ahasia, stilletjies weggevat tussen die prinse wat doodgemaak sou word. Sy het hom en sy oppasster in 'n slaapkamer weggesteek vir Atalia, sodat hy die dood vrygespring het.

3. Hy is ses jaar by Jehoseba in die huis van die Here weggesteek, en in dié tyd het Atalia die land geregeer.

4. In die sewende jaar het die priester Jojada boodskappe gestuur na die Kariërs se bevelhebbers oor honderd en na dié van die hardlopers, en hulle na hom toe in die huis van die Here laat kom. Daar het hy met hulle 'n verbond gesluit. Nadat hy hulle in die huis van die Here 'n eed laat aflê het, het hy hulle die koning se seun gewys.

5. Hy het hulle beveel: “'n Derde van julle, van dié wat op die sabbat kom diens doen, moet wagstaan by die wagpos van die paleis.

6. 'n Derde moet by die Surpoort en 'n derde by die poort agter die hardlopers wagstaan. Julle moet om die beurt by die tempel wagstaan.

7. Die twee afdelings van julle wat op die sabbat van diens af gaan, moet die koning in die huis van die Here bewaak.

8. Julle moet rondom die koning wees, elkeen met sy wapens in die hand. Enigeen wat in julle geledere probeer inkom, moet doodgemaak word. Bly by die koning oral waar hy gaan.”

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 11