Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 10:4-14 Afrikaans 1983 (AFR83)

4. Hulle het bang geword, want hulle het gedink: twee konings moes die onderspit teen hom delf, hoe sal ons ons kan handhaaf?

5. Die amptenaar in beheer van die paleis en die een in beheer van die stad, die leiers en die opvoeders het vir Jehu laat weet: “Ons wil u onderdane wees. Ons wil niemand koning maak nie. Alles wat u aan ons opdra, sal ons uitvoer. Doen wat u goedvind.”

6. Toe skryf hy vir hulle 'n tweede brief: “As julle ten gunste van my is en aan my gehoorsaam wil wees, bring die koppe van die prinse môre hierdie tyd na my toe in Jisreël.”Die sewentig prinse was elkeen tuis by 'n vooraanstaande persoon van die stad wat hulle moes grootmaak.

7. Toe die brief by die leiers kom, het hulle die prinse gevat en al sewentig doodgemaak en hulle koppe in mandjies na Jehu toe in Jisreël gestuur.

8. Die boodskapper het kom rapporteer: “Hulle het die koppe van die prinse gebring.”Jehu het gesê: “Sit hulle tot môreoggend in twee hope neer by die ingang van die poort.”

9. Die volgende môre het hy uitgegaan, daar gaan staan, en vir al die mense daar gesê: “Julle is onskuldig. Dit is ek wat teen die koning saamgesweer en hom vermoor het, maar wie het al hierdie mense doodgemaak?

10. Erken dan dat nie 'n enkele ding wat die Here oor die huis van Agab gesê het, onvervul sal bly nie. Die Here het alles gedoen wat Hy deur sy dienaar Elia gesê het.”

11. Jehu het almal doodgemaak wat nog van die koningshuis van Agab in Jisreël oor was: al die vooraanstaandes, vertrouelinge, selfs priesters; hy het nie een laat wegkom nie.

12. Jehu het klaargemaak en na Samaria toe vertrek. Langs die pad by Bet-Eked-Roïm

13. het hy die broers van koning Ahasia van Juda teëgekom. “Wie is julle?” het hy gevra.“Ons is Ahasia se broers,” het hulle geantwoord, “ons gaan kyk hoe gaan dit met die prinse en die koning se ma.”

14. Jehu het beveel: “Vang hulle.”Hulle het hulle gevang en hulle doodgemaak by die put van Bet-Eked, altesaam twee en veertig; hy het nie een van hulle laat oorbly nie.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 10