Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 9:19-27 Afrikaans 1983 (AFR83)

19. Samuel sê toe vir Saul: “Ek is die siener. Gaan saam met my na die hoogte toe. Julle moet vandag saam met my gaan eet. Môreoggend sal ek jou laat gaan. Oor alles wat jou kwel, sal ek jou inlig.

20. Jou donkies is vandag al drie dae weg. Jy moet jou egter nie oor hulle bekommer nie, want hulle is gekry. Maar aan wie behoort die kosbaarste goed in die hele Israel? Is dit nie aan jou en jou hele familie nie?”

21. En Saul antwoord: “Ek is maar net 'n Benjaminiet, uit die swakste stam van Israel. Boonop is my familie die kleinste in die stam Benjamin! Waarom praat u so met my?”

22. Samuel het Saul en sy slaaf saamgevat en hulle na die eetplek toe gebring. Hy het hulle 'n ereplek onder die genooides gegee. Daar was omtrent dertig man.

23. Samuel het vir die kok gesê: “Bring die deel wat ek aan jou gegee het en waarvan ek gesê het: Sit dit eenkant.”

24. Die kok het die boud vleis gevat en voor Saul neergesit, en Samuel het vir hom gesê: “Dit is wat uitgehou is. Eet wat voor jou neergesit is, want vir hierdie geleentheid is dit vir jou gebêre toe ek die mense genooi het.”So het Saul dan daardie dag saam met Samuel geëet.

25. Daarna het hulle van die hoogte af na die stad toe gegaan. En Samuel het met Saul op die huis se dak gepraat.

26. Die volgende môre het hulle vroeg opgestaan. Toe die rooidag uitkom, het Samuel al na Saul op die dak geroep: “Staan op! Ek wil 'n ent met jou saam stap.”Saul het toe opgestaan, en hy en Samuel het buitetoe gegaan.

27. Hulle het gegaan tot by die stadsgrens en Samuel het vir Saul gesê: “Beveel die slaaf om vooruit te loop; maar wag jy eers sodat ek vir jou kan vertel wat God gesê het.”

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 9