Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 6:5-12 Afrikaans 1983 (AFR83)

5. Maak afbeeldings van julle swere en van die muise wat die land verniel het, en gee eer aan die God van Israel; miskien sal sy hand dan nie langer swaar op julle lê nie, ook nie op julle gode en op julle land nie.

6. Waarom sou julle hardkoppig bly soos die Egiptenaars en die farao hardkoppig was? Toe God hulle laat swaarkry het, het hulle uiteindelik die Israeliete laat gaan dat hulle kon wegtrek.

7. “Maak dan nou 'n nuwe wa en vat twee koeie wat in die melk is en nog nie ingespan was nie. Span hulle in voor die wa en keer hulle kalwers af kraal toe.

8. Vat dan die ark van die Here en sit dit op die wa. Die goue voorwerpe wat julle as geskenk aan die Here gee, moet julle langs die ark in 'n kissie neersit. Los dan die wa dat hy loop.

9. En let op: as dit met die pad langs na sy gebied toe in Bet-Semes gaan, dan het die Here ons hierdie groot kwaad aangedoen. So nie, dan weet ons dat dit nie Hy was nie; dan was dit maar iets wat toevallig gebeur het.”

10. Die Filistyne het dit toe gedoen. Hulle het die twee koeie gevat en voor die wa ingespan en hulle kalwers in die kraal gehou,

11. en die ark van die Here op die wa gesit, ook die kissie met die goue muise en die afbeeldings van die swere.

12. Die koeie het reguit met die pad langs na Bet-Semes toe geloop, bulk-bulk al met die grootpad langs. Hulle het nie links of regs weggedraai nie, terwyl die Filistynse regeerders agter hulle aan geloop het tot by die gebied van Bet-Semes.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 6