hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31

Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 27 Afrikaans 1983 (AFR83)

Dawid skaar hom by Akis

1. Dawid het by homself gedink: ek sal nog eendag deur Saul omkom. Daar bly vir my niks anders oor nie as om uit te wyk na die land van die Filistyne toe. Dan sal Saul ophou om langer oral in die gebied van Israel na my te soek. So sal ek van hom af wegkom.

2. Dawid het klaargemaak en hy en ses honderd man wat by hom was, het oorgetrek na koning Akis van Gat, seun van Maok toe.

3. Dawid het by Akis in Gat gewoon, hy en sy manne met hulle gesinne, en ook sy twee vrouens Aginoam uit Jisreël, en Abigajil die weduwee van Nabal die Karmeliet.

4. Daar is toe aan Saul vertel dat Dawid na Gat toe gevlug het, en Saul het hom nie langer gesoek nie.

5. Dawid het vir Akis gesê: “As u my goedgesind is, gee my dan 'n plek in een van u buitedorpe sodat ek daar kan woon. Waarom moet ek saam met u in die koninklike stad woon?”

6. Op daardie dag het Akis toe vir Siklag aan hom gegee, en daarom behoort Siklag nou nog aan die konings van Juda.

7. Dawid het 'n jaar en vier maande op die platteland by die Filistyne gewoon.

Dawid mislei vir Akis

8. Dawid en sy manne het van tyd tot tyd opgetrek en dan het hulle die Gesureërs of die Geseriete of die Amalekiete aangeval. Dit is die mense wat die gebied bewoon van Olam af waar jy ingaan na Sur toe tot by Egipte.

9. Wanneer Dawid 'n gebied verower het, het hy geen man of vrou laat lewe nie. Hy het skape en beeste, donkies en kamele en klere buitgemaak. Dan het hy omgedraai en na Akis toe gegaan.

10. En as Akis vra: “Vir wie het julle nou weer oorval?” antwoord Dawid: “Die Suidland van Juda” of “die Suidland van die Jeragmeëliete” of “die Suidland van die Keniete.”

11. Dawid het geen man of vrou laat lewe om na Gat toe te bring nie, want hy het gedink: anders verklik hulle ons en sê: “Dit is wat Dawid gedoen het.”Dit het hy gedoen so lank hy op die platteland by die Filistyne gewoon het.

12. Akis het vir Dawid vertrou, want hy het gedink: hy het vir goed by sy volk Israel in onguns geraak. Hy sal altyd my onderdaan wees.