Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 20:27-43 Afrikaans 1983 (AFR83)

27. Die volgende dag van die nuwemaan, die tweede dag, is Dawid se leë plek weer opgemerk.Saul vra toe vir sy seun Jonatan: “Waarom het die seun van Isai gister en vandag nie na die maaltyd toe gekom nie?”

28. Maar Jonatan het vir Saul geantwoord: “Dawid het my dringend verlof gevra om na Betlehem toe te gaan.

29. Hy het gesê: ‘Laat my tog gaan, want ons het 'n familie-offer in die stad. My broer self het my laat roep. As u dit goedvind, laat my dan tog gaan sodat ek my broers kan gaan besoek.’ Daarom het hy nie aan die koning se tafel verskyn nie.”

30. Toe het Saul hom bloedig vererg vir Jonatan en gesê: “Jou rebelse ellendeling! Jy verkies mos die seun van Isai tot jou eie skande en tot skande van jou ma wat jou in die wêreld gebring het.

31. Solank die seun van Isai op hierdie aarde leef, sal daar nie plek wees vir jou en jou koningskap nie. Stuur en bring hom na my toe, hy moet dood!”

32. Daarop het Jonatan sy pa geantwoord en gevra: “Waarom moet hy doodgemaak word? Wat het hy gedoen?”

33. Toe Saul die spies na Jonatan mik om hom dood te maak, het Jonatan geweet sy pa is vasbeslote om vir Dawid om die lewe te bring.

34. Woedend het Jonatan van die tafel af opgestaan en op die tweede dag van die nuwemaan niks geëet nie omdat hy bekommerd was oor Dawid en omdat Saul vir Dawid so sleg behandel.

35. In die môre het Jonatan volgens sy afspraak met Dawid uitgegaan na die veld toe, en daar was 'n jong slaaf by hom.

36. Hy het vir sy slaaf gesê: “Hardloop, gaan haal die pyle wat ek afskiet.”Die slaaf het gehardloop en Jonatan het die pyl by hom verby geskiet.

37. Toe die slaaf by die plek kom waarheen Jonatan die pyl geskiet het, het Jonatan agter hom aan geroep en gesê: “Die pyl lê verder.”

38. Jonatan het weer agter hom aan geroep: “Maak gou! Vinnig! Moenie tyd mors nie!”Die slaaf het toe die pyl opgetel en na Jonatan toe gekom.

39. Hy het van niks geweet nie. Net Jonatan en Dawid het daarvan geweet.

40. Jonatan het sy wapens aan die slaaf wat by hom was, gegee en vir hom gesê: “Loop! Vat dit stad toe.”

41. Toe die slaaf weg was, het Dawid opgestaan langs die kliphoop en op sy knieë geval en drie maal vooroor gebuig. Hulle het mekaar gesoen en saam gehuil totdat Dawid baie ontroerd geword het.

42. Jonatan het vir Dawid gesê: “Gaan in vrede omdat ons twee in die Naam van die Here trou gesweer het en gesê het: Die Here is vir altyd daarvan getuie tussen ons en tussen ons twee se nageslagte.”

43. Dawid het toe klaargemaak en weggegaan, maar Jonatan is terug stad toe.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 20