Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 2:3-19 Afrikaans 1983 (AFR83)

3. “Julle moenie in hoogmoed bly praat nie,moenie aanmatigende dinge sê nie,want die Here is 'n God van diepe kennis,dade word deur Hom getoets.

4. “Die boog van die magtiges is verbreek,dié wat gestruikel het, het nuwe krag gekry.

5. Wie versadig was, moet hulle nou vir brood verhuur,wie honger was, het oorgenoeg om te eet.Die onvrugbare bring sewe in die wêreld,die een met baie kinders kwyn weg.

6. “Die Here maak dood en Hy maak lewend,Hy laat afdaal na die doderyk toeen Hy laat daaruit opkom.

7. Die Here maak arm en Hy maak ryk,Hy verneder, ook gee Hy aansien.

8. Hy laat die geringes uit die stof opstaan,Hy hef die armes op van die ashoop afom hulle by vername mense te laat sit;Hy skenk hulle 'n ereplek.Aan die Here behoort die pilare van die aarde;Hy het die aarde daarop gegrondves.

9. “Hy beskerm sy troue dienaars op hulle pad,maar die goddeloses word stil gemaak in die duisternis van die graf.'n Mens oorwin nie deur eie krag nie!

10. Dié wat teen die Here in opstand kom, word vernietig,van bo uit die hemel verbrysel Hy hulle.Die Here spreek reg tot by die eindes van die aarde,Hy verleen krag aan sy koning,Hy gee sterkte aan sy gesalfde.”

11. Daarna het Elkana na sy huis toe gegaan in Rama, terwyl die seun Samuel die Here bly dien het onder toesig van die priester Eli.

12. Maar Eli se seuns was slegte mense; hulle het nie met die Here rekening gehou nie.

13. Die reg van die priesters teenoor die volk was so: elke keer wanneer iemand 'n offer bring, kom die priester se slaaf met 'n drietandvurk in sy hand, en wanneer die vleis kook,

14. steek hy die vurk in die kastrol of die bak of die pot of die pan. Alles wat die vurk optrek, vat die priester vir hom. Dit het hulle gedoen met al die Israeliete wat in Silo kom offer het.

15. Maar nog voordat die vet aan die brand gesteek is, het 'n slaaf van die priester al gekom en aan die man wat offer, gesê: “Gee vleis om vir die priester te braai. Hy neem nie gekookte vleis van jou aan nie, net rou vleis.”

16. As die man dan vir hom sê: “Laat hulle tog net eers die vet aan die brand steek, dan kan jy vir jou vat wat jy wil,” sê die slaaf vir hom: “Nee, jy moet dit nou gee, anders vat ek dit met geweld.”

17. Hierdie sonde van Eli se seuns was baie groot in die oë van die Here, want daardeur het die mense hulle agting vir die offer van die Here verloor.

18. Maar Samuel het die Here gedien. As 'n seun het Samuel al 'n linneskouerkleed gedra.

19. Sy ma het elke jaar vir hom 'n manteltjie gemaak en dit vir hom gebring wanneer sy saam met haar man gegaan het om die jaarlikse offer te bring.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 2