Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 14:32-48 Afrikaans 1983 (AFR83)

32. Hulle het op die buit toegesak en kleinvee, beeste en kalwers gevat en op die grond geslag en sommerso by die bloed geëet.

33. Daar is toe aan Saul gesê: “Die manskappe sondig teen die Here deur by die bloed te eet.”Toe sê hy: “Julle doen verkeerd. Rol dadelik 'n groot klip na my toe!”

34. Verder het Saul gesê: “Loop tussen die manskappe deur en sê vir hulle: Elkeen moet sy bees of stuk kleinvee na my toe bring en op die klip slag en dan gaan eet, sodat hulle nie teen die Here sondig deur by die bloed te eet nie.”Daardie nag het al die manskappe elkeen self sy bees gebring en daar by Saul geslag.

35. Saul het 'n altaar vir die Here gebou: hy het die klip gebruik om 'n altaar vir die Here te bou.

36. Daarna het Saul gesê: “Laat ons die Filistyne vannag agtervolg. Laat ons hulle plunder tot môre ligdag. Ons moenie een van hulle laat oorbly nie.”Die manskappe sê toe: “Maak soos u goedvind.”Maar die priester antwoord: “Laat ons God hier raadpleeg!”

37. Toe het Saul vir God gevra: “Moet ek die Filistyne agtervolg? Sal U hulle in Israel se mag oorgee?”Maar God het hom nie toe geantwoord nie.

38. Saul sê toe vir al die offisiere: “Kom hiernatoe dat julle kan uitvind en self sien wie vandag gesondig het.

39. Al is dit ook my seun Jonatan moet hy sekerlik sterwe, so seker as wat die Here leef, Hy wat vir Israel red.”Maar geen enkele manskap het vir Saul geantwoord nie.

40. Toe sê hy vir die hele Israel: “Julle moet eenkant toe staan. Ek en my seun Jonatan sal anderkant toe staan.”En die manskappe sê vir Saul: “Maak soos u goedvind.”

41. Saul het vir die Here gevra: “God van Israel, gee tog 'n beslissing.”Jonatan en Saul is aangewys, en die manskappe is van blaam onthef.

42. Toe sê Saul: “Julle moet loot tussen my en my seun Jonatan.”Jonatan is aangewys,

43. en Saul het vir hom gesê: “Vertel my tog wat jy gedoen het.”Jonatan het vir hom vertel. Hy het gesê: “Ek het net met die punt van my kierie 'n bietjie heuning geproe. Maar ek is bereid om te sterf.”

44. Saul sê toe: “Dit was 'n eed, Jonatan, jy moet beslis sterf!”

45. Maar die manskappe sê vir Saul: “Moet Jonatan wat hierdie groot uitkoms vir Israel bewerk het, sterf? Beslis nie! So seker as die Here leef, daar sal vandag geen haar van Jonatan se kop op die grond val nie, want met God se hulp het hy die Filistyne verslaan.”So het die manskappe vir Jonatan los gekry, en hy het nie gesterf nie.

46. Saul het die agtervolging van die Filistyne gestaak, en die Filistyne het na hulle gebied toe teruggegaan.

47. Nadat Saul seker was van die koningskap oor Israel, het hy oorlog gemaak teen al sy vyande in die omgewing: teen Moab en die Ammoniete; teen Edom en die konings van Soba; teen die Filistyne en teen almal wat teen hom gedraai het en gerebelleer het.

48. Saul het dapper opgetree en die Amalekiete verslaan. Sodoende het hy Israel gered uit die mag van dié wat hom geplunder het.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 14