Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 13:3-15 Afrikaans 1983 (AFR83)

3. Toe Jonatan die Filistynse wagpos wat in Gibea was, oorrompel het, het die Filistyne daarvan gehoor. Saul het oor die hele land die ramshoring laat blaas om die Hebreërs op te roep.

4. Die hele Israel het gehoor dat Saul die wagpos van die Filistyne oorrompel het en dat Israel in onguns gebring was by die Filistyne. Die manskappe is bymekaargeroep by Saul in Gilgal.

5. Die Filistyne het bymekaargekom om teen Israel te veg: dertig afdelings strydwaens en ses afdelings perderuiters en manskappe so baie soos die sand van die see. Hulle het opgetrek en kamp opgeslaan by Mikmas oos van Bet-Awen.

6. Israel het gemerk dat hy in die moeilikheid is, want die volk was in 'n hoek vasgekeer. Die volk het in spelonke, grotte, hol kranse, gate en droë putte gaan wegkruip.

7. En sommige Hebreërs het deur die Jordaan gegaan na Gad en na Gilead toe. Saul was egter nog in Gilgal en al die manskappe by hom was doodbang.

8. Hy het sewe dae gewag, die tyd soos afgespreek met Samuel, maar Samuel het nie by Gilgal opgedaag nie.Toe die manskappe wat by Saul was, begin dros het,

9. het hy gesê: “Bring die brandoffer en die maaltydoffers na my toe.” Hy het toe self die brandoffer geoffer.

10. En toe gebeur dit! Net toe hy die brandoffer klaar verbrand het, kom Samuel daar aan. Saul het na hom toe uitgegaan om hom te groet.

11. Samuel vra hom toe: “Wat het jy aangevang?”En Saul het gesê: “Ek het gesien die manskappe loop van my af weg, en u het nie opgedaag op die tyd wat ons afgespreek het nie. Die Filistyne het bymekaargekom by Mikmas,

12. en toe dink ek: die Filistyne sal nou-nou teen my afkom na Gilgal toe en ek het nog nie aan die Here 'n offer gebring nie. Toe het ek dit gewaag om self die brandoffer te bring.”

13. Maar Samuel sê vir Saul: “Jy het dwaas gehandel. As jy maar die bevel van die Here jou God wat Hy jou gegee het, nagekom het! Waarlik, dan sou die Here nou jou koningskap oor Israel vir altyd bevestig het.

14. Maar nou sal jou koningskap nie bestendig word nie. Die Here sal vir Hom 'n man na sy hart soek. Die Here sal hóm aanstel as regeerder oor sy volk, want jy het nie gedoen wat die Here jou beveel het nie.”

15. Samuel het daarna opgestaan en van Gilgal af na Gibea in Benjamin toe vertrek. Saul het toe die manskappe wat nog by hom was, getel: omtrent ses honderd man.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 13