Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 9:12-25 Afrikaans 1983 (AFR83)

12. Toe Hiram hierdie stede wat Salomo aan hom oorgedra het, uit Tirus gaan besigtig, was hy teleurgestel

13. en het hy gesê: “Wat se stede is dit wat jy vir my gee, my broer!”Daarom dra dit tot vandag nog die naam “Kabulstreek”.

14. Hiram het aan Salomo meer as vier ton goud gelewer.

15. Vir die bou van die huis van die Here en die paleis, die terras en die muur van Jerusalem, en vir die herbou van die stede Hasor, Megiddo en Geser het koning Salomo van dwangarbeid gebruik gemaak.

16. Die farao, die koning van Egipte, het Geser met sy leër ingeneem, dit aan die brand gesteek en die Kanaäniete wat die stad bewoon het, om die lewe gebring. Daarna het hy dit as bruidskat gegee vir sy dogter wat met Salomo getrou het.

17. Salomo het Geser weer opgebou, en ook Bet-Goron-Onder,

18. Baälat en Tamar in die woestyn, in die gebied van Juda;

19. verder ook al die voorraadstede wat hy besit het, die stede vir die strydwamagte en die berede magte. Hy het ook al die bouwerk wat hy hom voorgeneem het, voltooi: dié in Jerusalem en ook dié op die Libanon en dwarsdeur die hele land waaroor hy geregeer het.

20. Salomo het al die nie-Israeliete, die mense wat nog oor was van die Amoriete, Hetiete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete,

21. afstammelinge van dié wat nie deur die Israeliete uitgeroei is nie en nog oor was in die land, opgeroep om dwangarbeid te doen. Dit is vandag nog so.

22. Salomo het nie die Israeliete as arbeiders gebruik nie; hulle was sy soldate, sy lyfwag, sy amptenare, die aanvoerders van sy strydwabemannings, sy strydwamag en sy berede mag.

23. Daar was ook nog die volgende getal uitvoerende beamptes oor wie koning Salomo beskik het: vyf honderd en vyftig wat gesag uitgeoefen het oor die werksmense.

24. Nadat die dogter van die farao oorgetrek het van die Dawidstad af na die huis wat Salomo vir haar gebou het, het hy die terras gebou.

25. Salomo het drie maal per jaar brandoffers en maaltydoffers gebring op die altaar wat hy vir die Here gebou het, en daarmee saam wierookoffers vir die Here gebrand. So het hy sy verantwoordelikheid in die tempel nagekom.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 9