Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 22:1-16 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Daar was drie jaar lank geen vyandigheid tussen Aram en Israel nie.

2. In die derde jaar het koning Josafat van Juda na die koning van Israel toe gegaan.

3. Die koning van Israel het vir sy amptenare gesê: “Julle weet goed Ramot in Gilead behoort aan ons, en tog doen ons niks om dit uit die mag van die koning van Aram terug te vat nie!”

4. Die koning van Israel vra toe vir Josafat: “Sal jy saam met my optrek om oorlog te maak teen Ramot in Gilead?”Josafat het hom geantwoord: “Ek en jy is een. My manskappe is jou manskappe, en my perde is jou perde.

5. Maar,” het Josafat verder vir die koning van Israel gesê, “raadpleeg net eers die Here.”

6. Die koning van Israel het toe die profete bymekaargeroep, omtrent vier honderd van hulle, en vir hulle gevra: “Moet ek teen Ramot in Gilead gaan veg? Of moet ek dit laat staan?”Hulle het geantwoord: “Gaan gerus, die Here gee die stad aan die koning oor.”

7. Josafat het egter gevra: “Is hier nie nóg 'n profeet van die Here dat ons hom ook kan raadpleeg nie?”

8. Die koning van Israel sê toe vir Josafat: “Hier is nog een man deur wie ons die Here kan raadpleeg, maar ek haat hom, want hy voorspel vir my nooit iets goeds nie, net altyd die slegste. Dit is Miga seun van Jimla.”Josafat sê toe: “Die koning moenie so praat nie.”

9. Die koning van Israel roep toe 'n paleisamptenaar en sê: “Gaan haal gou vir Miga seun van Jimla!”

10. Die koning van Israel en koning Josafat van Juda het elkeen in sy koninklike gewaad op sy troon gesit by die dorsvloer voor die poort van Samaria. Voor hulle was al die profete besig met hulle voorspellings.

11. Sedekia seun van Kenaäna het vir hom 'n paar horings van yster gemaak en gesê: “So sê die Here: Met hierdie horings sal u die Arameërs stoot tot dit klaar is met hulle.”

12. So het al die profete voorspel. Hulle uitspraak was: “Trek op teen Ramot in Gilead. U sal wen. Die Here gee die stad aan die koning oor.”

13. Die boodskapper wat vir Miga gaan roep het, het vir hom gesê: “Kyk, die uitspraak van die profete was eenstemmig gunstig vir die koning. Laat joune nou tog dieselfde wees. Sê iets goeds!”

14. Maar Miga sê: “So seker as die Here leef, wat die Here vir my sê, dit sal ek sê!”

15. Toe Miga by die koning kom, sê dié vir hom: “Miga, moet ons teen Ramot in Gilead gaan veg? Of moet ons dit laat staan?”“Gaan gerus,” antwoord Miga, “u sal wen. Die Here gee die stad aan die koning oor.”

16. Maar die koning sê vir hom: “Hoeveel keer moet ek nog by jou daarop aandring dat jy vir my niks anders as die waarheid in die Naam van die Here moet sê nie!”

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 22