Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 18:16-30 Afrikaans 1983 (AFR83)

16. Toe gaan Obadja na Agab toe en vertel hom, en Agab het na Elia toe gekom.

17. Net toe Agab hom sien, sê Agab vir hom: “Is dit jy, jy wat die dood oor Israel bring?”

18. Hy antwoord: “Dis nie ek wat die dood oor Israel bring nie, maar jy en jou familie. Julle het die gebooie van die Here verontagsaam en die Baäls gedien.

19. Roep vir my die hele Israel bymekaar op Karmelberg. Die vier honderd en vyftig profete van Baäl en die vier honderd van Asjera wat van Isebel se tafel af eet, moet ook daar wees.”

20. Toe stuur Agab die boodskap aan al die Israeliete; hy het ook die profete op Karmelberg laat bymekaarkom.

21. Elia het voor die hele volk gaan staan en gesê: “Hoe lank hou julle aan met hink op twee gedagtes? As die Here God is, volg Hóm; maar as dit Baäl is, volg hóm.”Die volk het hom nie 'n woord geantwoord nie.

22. Toe sê Elia vir die volk: “Ek alleen het oorgebly as profeet van die Here, maar daar is vier honderd en vyftig profete van Baäl.

23. Bring nou vir ons twee bulle. Hulle kan vir hulle een bul kies en hom opsny en op die hout uitlê. Maar hulle moet dit nie aan die brand steek nie. Ek sal dieselfde doen met die ander bul. Ek sal hom op die hout uitlê, maar dit ook nie aan die brand steek nie.

24. Dan moet julle tot julle god bid, en ek sal tot die Here bid. Hy wat met vuur antwoord, is God.”Die hele volk het geantwoord: “Dis goed so.”

25. Toe sê Elia vir die profete van Baäl: “Kies 'n bul en maak julle hom eerste gereed, want julle is die meeste. Bid dan tot julle god. Maar julle mag nie die vuur aansteek nie.”

26. Hulle neem toe die bul wat hy hulle laat kies het en maak hom gereed. Hulle bid toe tot Baäl en roep van die môre af tot die middag toe: “Baäl, antwoord ons!”Daar was nie 'n geluid van hom af nie. Niemand het geantwoord nie, hoe hulle ook al vir Baäl gedans het by die altaar wat hulle gemaak het.

27. Teen die middag het Elia hulle begin spot: “Roep harder! Hy is mos 'n god! Miskien is hy diep in gedagte of gou bietjie uit, of op reis, of dalk slaap hy en moet hy eers wakker word!”

28. Toe roep hulle nog harder; en soos altyd kerf hulle hulle stukkend met swaarde en spiese dat die bloed oor hulle loop.

29. Tot die namiddag het hulle aangehou te kere gaan, en teen laatmiddag, die tyd vir die aandoffer, was daar nog geen geluid nie. Niemand het geantwoord nie, daar was geen reaksie nie.

30. Toe sê Elia vir die hele volk: “Kom staan hier by my,” en hulle het almal by hom gaan staan.Toe het hy die stukkende altaar van die Here weer reggemaak.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 18