Ou Testament

Nuwe Testament

Romeine 7:1-10 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Julle weet, broers — en ek praat met mense wat op hoogte is van die wet van Moses — dat die wet gesag het oor 'n mens so lank as hy lewe.

2. Die getroude vrou, byvoorbeeld, is deur die wet aan haar man gebind so lank as hy lewe. As haar man te sterwe kom, is sy onthef van die wet wat haar aan haar man gebind het.

3. Maar as sy 'n ander man se vrou word so lank as haar man lewe, sal sy as 'n egbreekster beskou word. As haar man gesterf het, is sy egter vry van die wet en is sy nie 'n egbreekster as sy 'n ander man se vrou word nie.

4. Dit is ook die geval met julle, my broers. Deur julle verbondenheid met die liggaam van Christus het julle gesterwe en staan julle nie meer onder die wet nie. Julle behoort nou aan iemand anders, aan Hom wat uit die dood opgewek is. Daarom moet ons nou 'n vrugbare lewe lei in diens van God.

5. Toe ons nog 'n sondige lewensbestaan gevoer het, was die sondige hartstogte wat deur die wet wakker gemaak is, in elke deel van ons liggame werksaam en het ons vrugte gedra in diens van die dood.

6. Maar nou is ons vrygemaak van die wet, want ons het gesterf en staan nie meer onder die wet waardeur ons gebind was nie. Nou kan ons dien in die nuwe bedeling van die Gees, nie in die ou bedeling van wetsvoorskrifte nie.

7. Wat is dan ons gevolgtrekking? Dat die wet van Moses sonde is? Beslis nie. Inteendeel, ek sou nie geweet het wat sonde is nie, as dit nie deur die wet was nie. Ek sou byvoorbeeld nie geweet het dat dit sonde is om te begeer nie as die wet nie gesê het: “Jy mag nie begeer nie.”

8. Maar deur hierdie gebod het die sonde 'n vastrapplek gekry en elke soort begeerte in my aan die gang gesit, want sonder die wet is die sonde dood.

9. Voorheen, toe die wet nie daar was nie, het ek gelewe, maar toe die gebod gekom het, het die sonde begin lewe,

10. en ek het gesterwe. Dit het geblyk dat die gebod wat bedoel was om vir my die lewe te bring, vir my die dood beteken.

Lees volledige hoofstuk Romeine 7