Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 26:21-37 Afrikaans 1983 (AFR83)

21. Terwyl hulle eet, sê Hy: “Dit verseker Ek julle: Een van julle sal My verraai.”

22. Hulle was baie onthuts en een na die ander het Hom begin vra: “Dit is tog nie ek nie, Here?”

23. Hy antwoord toe: “Die een wat saam met My sy brood in die skottel insteek, dit is hy wat My sal verraai.

24. Die Seun van die mens gaan inderdaad sterwe soos daar oor Hom geskrywe staan; maar wee die man deur wie die Seun van die mens verraai word. Dit sou vir daardie man beter gewees het as hy nooit gebore was nie.”

25. Toe sê Judas, sy verraaier: “Is dit miskien ek, Rabbi?”Jesus antwoord: “Dit is soos jy sê!”

26. En terwyl hulle eet, het Jesus brood geneem en die seën gevra. Daarna het Hy dit gebreek en vir sy dissipels gegee met die woorde: “Neem, eet; dit is my liggaam.”

27. Toe neem Hy 'n beker, en nadat Hy die dankgebed uitgespreek het, gee Hy dit vir hulle en sê: “Drink almal daaruit,

28. want dit is my bloed, die bloed waardeur die verbond beseël word en wat vir baie vergiet word tot vergewing van sondes.

29. Ek sê vir julle: Van nou af sal Ek nie weer van hierdie wyn drink nie tot op die dag wanneer Ek saam met julle die nuwe wyn in die koninkryk van my Vader sal drink.”

30. Nadat hulle die lofsang gesing het, het hulle uitgegaan Olyfberg toe.

31. Toe sê Jesus vir hulle: “Julle almal sal My vannag nog in die steek laat. Daar staan immers geskrywe:“ ‘Ek sal die herder doodmaak,en die skape van sy kudde sal uitmekaar gejaag word.’

32. “Maar nadat Ek uit die dood opgewek is, sal Ek julle vooruitgaan na Galilea toe.”

33. Daarop het Petrus vir Hom gesê: “Al sal hulle U ook almal in die steek laat, ék sal U nooit in die steek laat nie.”

34. Toe sê Jesus vir hom: “Dit verseker Ek jou: Vannag nog, voordat die haan kraai, sal jy My drie maal verloën.”

35. Petrus sê vir Hom: “Al moet ek saam met U sterwe, ek sal U beslis nie verloën nie!”Al die ander dissipels het ook so gesê.

36. Daarna kom Jesus met sy dissipels by 'n plek met die naam Getsemane, en Hy sê vir hulle: “Sit hier terwyl Ek daar gaan bid.”

37. Hy het vir Petrus en die twee seuns van Sebedeus saamgeneem. Toe het Hy bedroef en beangs geword

Lees volledige hoofstuk Matteus 26