Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 26:20-32 Afrikaans 1983 (AFR83)

20. Toe dit aand geword het, het Jesus sy plek aan die tafel ingeneem saam met die twaalf.

21. Terwyl hulle eet, sê Hy: “Dit verseker Ek julle: Een van julle sal My verraai.”

22. Hulle was baie onthuts en een na die ander het Hom begin vra: “Dit is tog nie ek nie, Here?”

23. Hy antwoord toe: “Die een wat saam met My sy brood in die skottel insteek, dit is hy wat My sal verraai.

24. Die Seun van die mens gaan inderdaad sterwe soos daar oor Hom geskrywe staan; maar wee die man deur wie die Seun van die mens verraai word. Dit sou vir daardie man beter gewees het as hy nooit gebore was nie.”

25. Toe sê Judas, sy verraaier: “Is dit miskien ek, Rabbi?”Jesus antwoord: “Dit is soos jy sê!”

26. En terwyl hulle eet, het Jesus brood geneem en die seën gevra. Daarna het Hy dit gebreek en vir sy dissipels gegee met die woorde: “Neem, eet; dit is my liggaam.”

27. Toe neem Hy 'n beker, en nadat Hy die dankgebed uitgespreek het, gee Hy dit vir hulle en sê: “Drink almal daaruit,

28. want dit is my bloed, die bloed waardeur die verbond beseël word en wat vir baie vergiet word tot vergewing van sondes.

29. Ek sê vir julle: Van nou af sal Ek nie weer van hierdie wyn drink nie tot op die dag wanneer Ek saam met julle die nuwe wyn in die koninkryk van my Vader sal drink.”

30. Nadat hulle die lofsang gesing het, het hulle uitgegaan Olyfberg toe.

31. Toe sê Jesus vir hulle: “Julle almal sal My vannag nog in die steek laat. Daar staan immers geskrywe:“ ‘Ek sal die herder doodmaak,en die skape van sy kudde sal uitmekaar gejaag word.’

32. “Maar nadat Ek uit die dood opgewek is, sal Ek julle vooruitgaan na Galilea toe.”

Lees volledige hoofstuk Matteus 26