Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 13:19-35 Afrikaans 1983 (AFR83)

19. Die Bose kom by elkeen wat die woord van die koninkryk hoor maar dit nie verstaan nie, en vat dan weg wat in sy hart gesaai is. Dit is hy by wie daar op die pad gesaai is.

20. Die man weer by wie daar op die klipbanke gesaai is, is hy wat die woord hoor en dit dadelik met blydskap aanneem.

21. Hy laat dit egter nie by hom wortel skiet nie, en hy hou nie lank uit nie. As hy ter wille van die woord verdruk en vervolg word, word hy gou afvallig.

22. Die man by wie daar tussen die onkruid gesaai is, is hy wat die woord hoor, maar die bekommernis van die lewe en die verleidelikheid van rykdom verstik die woord, en dit bly sonder vrug.

23. Die man by wie daar op goeie grond gesaai is, is hy wat die woord hoor en dit verstaan. Hy dra inderdaad vrug en lewer 'n oes: soms honderdvoudig, soms sestigvoudig, soms dertigvoudig.”

24. Hy het nog 'n gelykenis aan hulle voorgehou en gesê: “Die koninkryk van die hemel kan vergelyk word met 'n man wat goeie saad op sy land gesaai het.

25. Een nag, toe die mense slaap, het sy vyand gekom en onkruid tussen die koring gesaai en verdwyn.

26. Toe die groen koring opskiet en in die aar begin kom, het die onkruid ook sigbaar geword.

27. Die slawe van die boer kom sê toe vir hom: ‘Meneer, het u nie goeie saad op u land gesaai nie? Waar kom die onkruid dan vandaan?’

28. Hy antwoord hulle: ‘Dit is 'n vyand se werk.’ Die slawe sê toe vir hom: ‘Wil u hê ons moet dit gaan uittrek?’

29. ‘Nee,’ sê hy, ‘as julle die onkruid nou bymekaarmaak, sal julle die koring saam uittrek.

30. Laat altwee saam groei tot met die oes. In die oestyd sal ek vir dié wat oes, sê: Maak eers die onkruid bymekaar en bind dit in bondels om dit te verbrand, maar bring die koring na my skuur toe.’ ”

31. Hy het nog 'n gelykenis aan hulle voorgehou en gesê: “Die koninkryk van die hemel is soos 'n mosterdsaadjie wat iemand gevat en in sy land geplant het.

32. Dit is die kleinste van al die soorte saad, maar as dit uitgegroei het, is dit groter as die tuinplante en word dit 'n boom, sodat die voëls in sy takke kom nes maak.”

33. Hy het hulle nog 'n gelykenis vertel: “Die koninkryk van die hemel is soos suurdeeg wat 'n vrou gevat en in 'n groot skottel meel ingewerk het totdat dit heeltemal deursuur was.”

34. Al hierdie dinge het Jesus vir die mense in gelykenisse geleer, en sonder 'n gelykenis het Hy hulle niks geleer nie.

35. So moes vervul word wat die Here deur 'n profeet gesê het:“Ek sal gelykenisse gebruik as Ek praat;Ek sal bekend maak wat geheim gebly het van die skepping af.”

Lees volledige hoofstuk Matteus 13