Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 7:25-37 Afrikaans 1983 (AFR83)

25. 'n Vrou wie se dogtertjie van 'n onrein gees besete was, het gou van Hom te hore gekom. Sy het gekom en voor sy voete neergeval.

26. Hierdie vrou was 'n Griek wat in Siro-Fenisië gebore is. Sy het Hom gevra om die bose gees uit haar dogter uit te drywe.

27. Maar Hy het vir haar gesê: “Wag dat die kinders eers klaar eet, want dit is nie mooi om die kinders se kos te vat en vir die hondjies te gooi nie.”

28. Sy het Hom geantwoord: “Here, die hondjies eet darem onder die tafel die kindertjies se oorskiet.”

29. Toe sê Hy vir haar: “Op grond van wat jy gesê het, kan jy maar huis toe gaan; die bose gees het al klaar uit jou dogter uitgegaan.”

30. Toe sy by die huis kom, kry sy haar kindjie op die bed lê en die bose gees was al klaar uit haar uit.

31. Jesus is weer uit die gebied van Tirus weg en deur Sidon na die See van Galilea toe in die gebied van Dekapolis.

32. Die mense bring toe 'n dowe man wat ook 'n spraakgebrek het na Hom toe en vra Hom om tog sy hand op hom te lê.

33. Hy het hom eers eenkant toe gevat, weg van die mense af. Toe het Hy sy vingers in die man se ore gesteek en spoeg aan sy tong gesmeer.

34. Daarna het Hy na die hemel toe opgekyk, gesug en vir hom gesê: “Effata!” Dit beteken: Gaan oop!

35. Sy ore het dadelik oopgegaan, die belemmering van sy spraak het verdwyn, en hy het reg gepraat.

36. Jesus het die mense belet om dit vir iemand anders te vertel, maar hoe meer Hy hulle belet het, hoe meer het hulle dit verkondig.

37. Hulle is geweldig aangegryp en het gesê: “Alles wat Hy doen, is goed: die dowes laat Hy hoor en die stommes laat Hy praat.”

Lees volledige hoofstuk Markus 7