Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 7:11-30 Afrikaans 1983 (AFR83)

11. Maar julle sê: ‘Iemand kan vir sy pa of sy ma sê: Enige gawe wat u van my sou kon kry, is korban,’ dit wil sê: 'n offergawe vir God.

12. En so laat julle hom toe om hoegenaamd niks vir sy pa of sy ma te doen nie.

13. So ontneem julle die woord van God sy gesag deur julle oorgelewerde gebruike wat julle op julle beurt weer oorgelewer het. Daar is ook nog baie ander sulke dinge wat julle doen.”

14. Daarna het Jesus weer die menigte nader geroep en vir hulle gesê: “Luister julle almal hier na My en verstaan dit goed:

15. Niks wat van buite af in 'n mens ingaan, kan hom onrein maak nie; maar die dinge wat uit 'n mens uitkom, dít maak hom onrein.”

17. Toe Hy van die menigte af weer huis toe gegaan het, het sy dissipels Hom oor hierdie beeldspraak uitgevra.

18. Hy sê toe vir hulle: “So, dan verstaan julle dit ook nie? Begryp julle nie dat niks wat van buite af in 'n mens ingaan, hom onrein kan maak nie,

19. omdat dit nie in sy hart ingaan nie maar in sy maag, en daarna uit sy liggaam uitgaan?”Daarmee het Hy alle kos rein verklaar.

20. “Maar,” het Hy verder gesê, “wat van binne af uit 'n mens kom, dít maak 'n mens onrein.

21. Van binne af, uit die hart van die mens, kom die slegte gedagtes: onkuisheid, diefstal, moord,

22. owerspel, hebsug, kwaadwilligheid, bedrog, losbandigheid, afguns, kwaadpratery, hoogmoed, ligsinnigheid.

23. Al hierdie slegte dinge kom van binne af en dit maak 'n mens onrein.”

24. Jesus het Hom gereed gemaak en daarvandaan weggegaan na die gebied van Tirus toe. Daar het Hy in 'n sekere huis tuis gegaan, en Hy wou nie hê dat iemand dit te wete moes kom nie. Tog kon Hy nie onopgemerk bly nie.

25. 'n Vrou wie se dogtertjie van 'n onrein gees besete was, het gou van Hom te hore gekom. Sy het gekom en voor sy voete neergeval.

26. Hierdie vrou was 'n Griek wat in Siro-Fenisië gebore is. Sy het Hom gevra om die bose gees uit haar dogter uit te drywe.

27. Maar Hy het vir haar gesê: “Wag dat die kinders eers klaar eet, want dit is nie mooi om die kinders se kos te vat en vir die hondjies te gooi nie.”

28. Sy het Hom geantwoord: “Here, die hondjies eet darem onder die tafel die kindertjies se oorskiet.”

29. Toe sê Hy vir haar: “Op grond van wat jy gesê het, kan jy maar huis toe gaan; die bose gees het al klaar uit jou dogter uitgegaan.”

30. Toe sy by die huis kom, kry sy haar kindjie op die bed lê en die bose gees was al klaar uit haar uit.

Lees volledige hoofstuk Markus 7