Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 15:35-47 Afrikaans 1983 (AFR83)

35. Toe party van die mense wat daar naby gestaan het, dit hoor, sê hulle: “Hoor daar, hy roep vir Elia.”

36. Een van hulle het toe gehardloop, 'n spons in suur wyn gesteek en dit vir Hom op 'n stok gehou om te drink. Hy het gesê: “Wag, kom ons kyk of Elia hom van die kruis kom afhaal.”

37. Daarna het Jesus hard uitgeroep en die laaste asem uitgeblaas.

38. Die voorhangsel in die tempel het van bo tot onder middeldeur geskeur.

39. Toe die offisier, wat reg voor Jesus gestaan het, Hom die laaste asem só sien uitblaas het, het hy gesê: “Hierdie man was werklik die Seun van God.”

40. Daar het ook vroue op 'n afstand gestaan en kyk. Onder hulle was Maria Magdalena en Maria die moeder van Klein-Jakobus en Joses, en Salome.

41. Toe Jesus nog in Galilea was, het hulle oral saam met Hom gegaan en Hom versorg. Baie ander vroue wat saam met Hom na Jerusalem toe gekom het, was ook daar.

42. Dit was Vrydag, dit is die dag voor die sabbatdag, en dit was al die middag laat.

43. Josef van Arimatea, 'n vooraanstaande lid van die Joodse Raad en iemand wat self ook uitgesien het na die koms van die koninkryk van God, kom toe daar aan. Hy het dit gewaag om na Pilatus toe te gaan en die liggaam van Jesus te vra.

44. Pilatus was verbaas om te hoor dat Hy al dood is. Hy het die offisier laat roep en hom gevra of Jesus lankal gesterwe het.

45. Toe hy van die offisier verneem dat dit wel so is, het hy die lyk vir Josef gegee.

46. Josef het 'n stuk linne gekoop, Jesus van die kruis gaan afhaal, Hom in die linne toegedraai en neergelê in 'n graf wat in die rots uitgekap was. Hy het 'n klip voor die ingang van die graf gerol.

47. Maria Magdalena en Maria die moeder van Joses het gestaan en kyk waar Hy neergelê word.

Lees volledige hoofstuk Markus 15