Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 13:8-19 Afrikaans 1983 (AFR83)

8. Want die een nasie sal teen die ander te staan kom en die een koninkryk teen die ander. Daar sal aardbewings op baie plekke voorkom. Daar sal hongersnode wees. Hierdie dinge is geboortepyne, die begin van die nuwe tyd.

9. “En julle moet teen julleself op julle hoede wees. Mense sal julle aan die geregshowe oorlewer; in die sinagoges sal julle geslaan word, en voor goewerneurs en konings sal julle oor My teregstaan. Dit sal 'n getuienis voor hulle wees.

10. En die evangelie moet eers aan al die nasies verkondig word.

11. Wanneer hulle julle gryp om julle oor te lewer, moet julle julle nie vooruit bekommer oor wat julle sal sê nie, maar julle moet praat soos dit op daardie oomblik aan julle gegee sal word, want dit is nie julle wat praat nie, maar die Heilige Gees.

12. Die een broer sal die ander oorlewer om doodgemaak te word, en selfs 'n pa sy kind. Kinders sal teen hulle ouers in opstand kom en hulle doodmaak.

13. Ja, julle sal ter wille van my Naam deur almal gehaat word. Maar wie tot die einde toe volhard, sal gered word.”

14. “En wanneer julle die ding wat 'n gruwel is vir God en wat verwoesting aanrig, sien staan op die plek waar hy nie moet wees nie — wie dit lees, moet dit goed begryp — dan moet dié wat in Judea is, die berge in vlug.

15. Die man wat op die dakstoep sit, moet nie ingaan om iets in sy huis te gryp nie;

16. en die man wat op die land is, moet nie omdraai om sy klere te gaan haal nie.

17. “Dit sal bitter swaar gaan met die vrouens wat in daardie tyd swanger is en met dié wat nog klein kindertjies het.

18. Bid dat dit nie in die winter moet gebeur nie,

19. want in daardie tyd sal daar so 'n verdrukking wees soos daar van die begin af, vandat God die wêreld geskep het tot nou toe, nog nie was nie en ook nie sal wees nie.

Lees volledige hoofstuk Markus 13