Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 1:17-35 Afrikaans 1983 (AFR83)

17. Hy het toe vir hulle gesê: “Kom hier! Kom saam met My, en Ek sal julle vissers van mense maak.”

18. Onmiddellik het hulle die nette gelos en Hom gevolg.

19. Toe Hy 'n entjie verder gaan, het Hy vir Jakobus seun van Sebedeus, en sy broer Johannes gesien waar hulle in die skuit besig was om hulle nette reg te maak,

20. en dadelik het Hy hulle geroep. Hulle het hulle pa, Sebedeus, net so saam met die loonarbeiders in die skuit gelaat en saam met Jesus gegaan.

21. Hulle het in Kapernaum gekom. Toe die sabbatdag aanbreek, het Jesus reguit na die sinagoge toe gegaan en die mense daar begin leer.

22. Hulle was verstom oor sy leer, want Hy het hulle geleer soos een wat gesag het, en nie soos die skrifgeleerdes nie.

23. Op daardie oomblik was daar in hulle sinagoge 'n man wat van 'n onrein gees besete was. Hy het uitgeskreeu:

24. “Wat het ons met U te doen, Jesus van Nasaret? Het U gekom om ons te verdelg? Ek weet goed wie U is; U is die Heilige van God!”

25. Maar Jesus het hom skerp aangespreek: “Bly stil en gaan uit hom uit.”

26. Die onrein gees het die man stuiptrekkings laat kry, hard geskreeu en toe uit hom uitgegaan.

27. Almal was so verbaas dat hulle onder mekaar geredeneer en gesê het: “Wat gaan hier aan? Dit is 'n nuwe leer, en dit kom met gesag! Hy gebied selfs die onrein geeste, en hulle gehoorsaam hom.”

28. En dit was nie lank nie of daar is in Galilea oral in die hele omgewing oor Hom gepraat.

29. Toe die mense uit die sinagoge kom, het hulle saam met Jakobus en Johannes reguit na die huis van Simon en Andreas toe gegaan.

30. Die skoonmoeder van Simon het daar met 'n hoë koors siek gelê, en hulle het Hom dadelik van haar vertel.

31. Hy het na haar toe gegaan, haar hand gevat en haar regop gehelp. Toe het die koors haar verlaat, en sy het hulle bedien.

32. Toe dit aand geword het en die son al onder was, het die mense al die siekes en dié wat in die mag van bose geeste was, na Hom toe gebring.

33. Die hele dorp het by die deur van die huis saamgedrom.

34. Hy het baie siekes wat allerhande kwale gehad het, gesond gemaak en baie bose geeste uitgedrywe. Hy het die bose geeste nie toegelaat om te praat nie, omdat hulle geweet het wie Hy is.

35. Die môre vroeg, toe dit nog nag was, het Hy opgestaan en buitentoe gegaan na 'n eensame plek en daar gebid.

Lees volledige hoofstuk Markus 1