Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 9:30-42 Afrikaans 1983 (AFR83)

30. Skielik was daar twee manne wat met Hom praat. Dit was Moses en Elia.

31. Hulle het in hemelse glans verskyn en met Hom gepraat oor sy uittog wat Hy in Jerusalem sou voltooi.

32. Petrus en die ander het intussen vas aan die slaap geraak, en toe hulle wakker word, sien hulle die hemelse glans van Jesus en ook die twee manne wat by Hom staan.

33. Toe die manne aanstaltes maak om van Hom af weg te gaan, sê Petrus vir Jesus: “Here, dit is goed dat ons hier is. Laat ons drie hutte bou: een vir U, een vir Moses en een vir Elia.”Hy het nie geweet wat hy sê nie.

34. Terwyl hy nog praat, kom daar 'n wolk en gooi sy skaduwee oor hulle, en toe die wolk hulle insluit, het die dissipels bang geword.

35. Daar kom toe 'n stem uit die wolk wat sê: “Dit is my Seun wat Ek uitverkies het. Luister na Hom.”

36. Toe die stem praat, merk hulle dat Jesus alleen daar is.Hulle het hieroor stilgebly en in daardie tyd vir niemand anders enigiets vertel van wat hulle gesien het nie.

37. Die volgende dag, toe hulle die berg afkom, het 'n groot klomp mense Jesus tegemoet gekom.

38. Meteens roep daar 'n man uit die skare: “Meneer, ek smeek U, kyk bietjie na my seun. Hy is my enigste kind.

39. 'n Gees pak hom onverwags beet, dan gaan hy skielik aan die skreeu en hy kry stuiptrekkings en ook skuim om die mond. Die gees hou aan om hom te verniel en laat hom nie maklik weer los nie.

40. Ek het u dissipels gesmeek om die gees uit te dryf, maar hulle kon nie.”

41. Toe antwoord Jesus: “Ongelowige en ontaarde geslag! Hoe lank moet Ek nog by julle wees en julle verdra? Bring jou seun hier.”

42. Terwyl die seun nog aankom, gooi die bose gees hom op die grond neer en laat hom hewige stuiptrekkings kry. Maar Jesus het die onrein gees skerp aangespreek, die kind gesond gemaak en hom aan sy pa teruggegee.

Lees volledige hoofstuk Lukas 9