Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 6:47-66 Afrikaans 1983 (AFR83)

47. “Dit verseker Ek julle: Wie in My glo, het die ewige lewe.

48. Ek is die brood wat lewe gee.

49. Julle voorouers het in die woestyn manna geëet en tog gesterwe.

50. Maar hier is die brood wat uit die hemel kom sodat 'n mens daarvan kan eet en nie sterwe nie.

51. Ek is die lewende brood wat uit die hemel gekom het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy ewig lewe. En die brood wat Ek sal gee, is my liggaam. Ek gee dit sodat die wêreld kan lewe.”

52. Die Jode het toe onder mekaar begin stry en gesê: “Hoe kan hy sy liggaam vir ons gee om te eet?”

53. Maar Jesus sê vir hulle: “Dit verseker Ek julle: As julle nie die liggaam van die Seun van die mens eet en sy bloed drink nie, het julle nie die lewe in julle nie.

54. Wie my liggaam eet en my bloed drink, het die ewige lewe, en Ek sal hom op die laaste dag uit die dood laat opstaan.

55. My liggaam is die ware voedsel, en my bloed is die ware drank.

56. Wie my liggaam eet en my bloed drink, bly in My en Ek in hom.

57. Soos die lewende Vader My gestuur het, en Ek deur Hom lewe, so sal hy wat My eet, ook deur My lewe.

58. Hierdie brood wat uit die hemel gekom het, is nie soos die manna wat julle voorouers geëet het nie. Hulle het dit geëet en tog gesterwe. Wie hierdie brood eet, sal ewig lewe.”

59. Dit het Jesus gesê toe Hy die mense in die sinagoge in Kapernaum geleer het.

60. Toe hulle dit hoor, het baie van Jesus se dissipels gesê: “Wat Hy nou sê, is darem te erg. Wie kan daaraan gehoor gee?”

61. Jesus het vanself geweet dat sy dissipels hieroor mor, en Hy sê vir hulle: “Skrik dit julle af?

62. Wat dan nog as julle die Seun van die mens sien opvaar na waar Hy voorheen was?

63. Dit is die Gees wat iemand lewend maak; die mens self kan dit nie doen nie. Wat Ek vir julle gesê het, kom van die Gees en gee lewe.

64. Maar daar is party van julle wat nie in My glo nie.”Jesus het immers van die begin af geweet wie dit is wat nie glo nie, en wie dit is wat Hom sou verraai.

65. Verder het Hy gesê: “Daarom het Ek vir julle gesê niemand kan na My toe kom as die Vader dit nie aan hom gegee het nie.”

66. Hieroor het baie van sy dissipels omgedraai huis toe en nie meer saam met Hom gegaan nie.

Lees volledige hoofstuk Johannes 6