Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 6:46-59 Afrikaans 1983 (AFR83)

46. Dit wil nie sê dat iemand anders al die Vader gesien het nie; net Hy wat van God af kom, Hy het die Vader gesien.

47. “Dit verseker Ek julle: Wie in My glo, het die ewige lewe.

48. Ek is die brood wat lewe gee.

49. Julle voorouers het in die woestyn manna geëet en tog gesterwe.

50. Maar hier is die brood wat uit die hemel kom sodat 'n mens daarvan kan eet en nie sterwe nie.

51. Ek is die lewende brood wat uit die hemel gekom het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy ewig lewe. En die brood wat Ek sal gee, is my liggaam. Ek gee dit sodat die wêreld kan lewe.”

52. Die Jode het toe onder mekaar begin stry en gesê: “Hoe kan hy sy liggaam vir ons gee om te eet?”

53. Maar Jesus sê vir hulle: “Dit verseker Ek julle: As julle nie die liggaam van die Seun van die mens eet en sy bloed drink nie, het julle nie die lewe in julle nie.

54. Wie my liggaam eet en my bloed drink, het die ewige lewe, en Ek sal hom op die laaste dag uit die dood laat opstaan.

55. My liggaam is die ware voedsel, en my bloed is die ware drank.

56. Wie my liggaam eet en my bloed drink, bly in My en Ek in hom.

57. Soos die lewende Vader My gestuur het, en Ek deur Hom lewe, so sal hy wat My eet, ook deur My lewe.

58. Hierdie brood wat uit die hemel gekom het, is nie soos die manna wat julle voorouers geëet het nie. Hulle het dit geëet en tog gesterwe. Wie hierdie brood eet, sal ewig lewe.”

59. Dit het Jesus gesê toe Hy die mense in die sinagoge in Kapernaum geleer het.

Lees volledige hoofstuk Johannes 6