Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 2:5-18 Afrikaans 1983 (AFR83)

5. Sy moeder sê toe vir die kelners: “Wat Hy ook al vir julle sê, moet julle doen.”

6. Daar het ses klipkanne gestaan vir water wat die Jode by hulle reiniging gebruik het. Elkeen het tussen negentig en honderd liter gehou.

7. Jesus sê toe vir die kelners: “Maak die kanne vol water.”Hulle het dit tot bo toe volgemaak.

8. Toe sê Hy vir hulle: “Skep nou daarvan uit en gaan gee dit vir die seremoniemeester.”Hulle het dit gedoen.

9. Die seremoniemeester het nie geweet waar dit vandaan kom nie, maar die kelners wat die water uitgeskep het, het geweet. Toe die seremoniemeester die water proe wat wyn geword het, roep hy die bruidegom

10. en sê vir hom: “'n Mens sit gewoonlik eers die goeie wyn voor, en as die mense goed gedrink het, dié van swakker gehalte; maar jy het die goeie wyn tot nou toe teruggehou.”

11. Hierdie eerste wonderteken het Jesus in Kana in Galilea gedoen. Hy het daardeur sy heerlikheid laat blyk, en sy dissipels het tot geloof in Hom gekom.

12. Hierna het Hy, sy moeder, sy broers en sy dissipels na Kapernaum toe gegaan, maar hulle het nie baie lank daar gebly nie.

13. Die paasfees van die Jode was naby, en Jesus het daarvoor na Jerusalem toe gegaan.

14. Op die tempelplein het Hy die verkopers van beeste, skape en duiwe gekry en die geldwisselaars wat daar sit.

15. Toe het Hy met toutjies 'n sweep gemaak en almal uit die tempel uitgejaag, ook die skape en die beeste. Die geld van die geldwisselaars het Hy op die grond gegooi en hulle tafels omgekeer.

16. Vir die mense wat die duiwe verkoop het, het Hy gesê: “Vat hierdie goed hier weg! Moenie die huis van my Vader 'n besigheidsplek maak nie.”

17. Toe het sy dissipels daaraan gedink dat daar geskrywe staan: “Die liefde vir u huis verteer my.”

18. Maar die Jode het Hom aangespreek en vir Hom gesê: “Met watter wonderteken kan u vir ons bewys dat u hierdie dinge mag doen?”

Lees volledige hoofstuk Johannes 2