Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 9:31-41 Afrikaans 1983 (AFR83)

31. In die hele Judea, Galilea en Samaria het die kerk 'n tyd van rus en vrede belewe. Dit het gevestig geraak en in gehoorsaamheid aan die Here gelewe. Die kerk is deur die Heilige Gees versterk, en die ledetal het toegeneem.

32. Petrus het baie rondgereis en het op 'n keer ook by die gelowiges gekom wat in Lidda gewoon het.

33. Daar het hy 'n man met die naam Eneas teëgekom wat verlam en al ag jaar lank bedlêend was.

34. “Eneas,” sê Petrus toe vir hom, “Jesus Christus maak jou gesond. Staan op en maak jou bed op.”Hy het dadelik opgestaan.

35. Al die mense van Lidda en die Saronvlakte het hom gesien en hulle tot die Here bekeer.

36. In Joppe was daar 'n gelowige vrou met die naam Tabita, in Grieks Dorkas. Sy was altyd besig om goed te doen en die armes te help.

37. Juis in die tyd toe Petrus in Lidda was, het sy siek geword en gesterwe. Hulle het haar gewas en in 'n bokamer neergelê.

38. Aangesien Lidda naby Joppe is en die gelowiges gehoor het dat Petrus daar is, het hulle twee mans na hom toe gestuur met die versoek: “Kom tog gou na ons toe oor.”

39. Petrus het dadelik saam met hulle gegaan en toe hy daar kom, het hulle hom na die bokamer toe geneem. Al die weduwees het by hom kom staan en snikkend vir hom die klere gewys wat Dorkas gemaak het toe sy nog gelewe het.

40. Nadat Petrus almal uitgestuur het, het hy gekniel en gebid. Toe het hy na die liggaam gedraai en gesê: “Tabita, staan op!”Sy het haar oë oopgemaak en toe sy vir Petrus sien, het sy regop gesit.

41. Hy het haar met die hand help opstaan, die weduwees en die ander gelowiges geroep en haar lewend voor hulle gebring.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 9