Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 5:8-23 Afrikaans 1983 (AFR83)

8. Petrus vra toe vir haar: “Sê vir my, het julle die grond vir soveel verkoop?”“Ja,” sê sy, “vir soveel.”

9. Toe sê Petrus vir haar: “Waarom het julle ooreengekom om die Gees van die Here uit te tart? Die mense wat jou man begrawe het, is nou net weer by die deur, en hulle sal jou ook uitdra.”

10. Sy het onmiddellik voor Petrus dood neergeval. Die jongmanne het ingekom, gesien sy is dood, en haar by haar man gaan begrawe.

11. Die hele gemeente en al die ander mense wat hiervan gehoor het, het baie bang geword.

12. Deur die apostels het daar baie tekens en wonders onder die volk plaasgevind. En al die gelowiges het gereeld saamgekom in die Pilaargang van Salomo,

13. maar van die ander mense het niemand dit gewaag om by hulle aan te sluit nie al het die volk hulle hoog geag.

14. Tog is baie mense wat in die Here geglo het, mans sowel as vrouens, algaande by hulle getal gevoeg.

15. Die mense het selfs siekes op straat uitgedra en hulle daar op draagbare en beddens neergesit sodat, as Petrus daar verbygaan, al is dit maar net sy skaduwee op party van hulle kon val.

16. Daar het ook baie mense van die dorpe in die omgewing van Jerusalem af gekom en siekes gebring en mense wat onder onrein geeste gely het. Hulle is almal gesond gemaak.

17. Die hoëpriester en al sy ondersteuners, wat aan die party van die Sadduseërs behoort het, is met afguns vervul en het besluit om in te gryp.

18. Hulle het die apostels oop en bloot laat vang en in die tronk gestop.

19. Maar 'n engel van die Here het in die nag die tronkdeure oopgemaak, die apostels uitgelei en vir hulle gesê:

20. “Gaan staan in die tempel en verkondig aan die volk die volle boodskap van hierdie nuwe lewe.”

21. Hulle het gehoor gegee en die môre vroeg na die tempel toe gegaan en die mense geleer.Intussen het die hoëpriester en sy ondersteuners die leiers van Israel vir 'n volle vergadering van die Joodse Raad bymekaargeroep en wagte na die tronk toe gestuur om die apostels te gaan haal.

22. Maar toe die wagte daar kom, het hulle hulle nie in die tronk gekry nie. Hulle het teruggekom en vertel:

23. “Ons het die tronk behoorlik toegesluit gekry en die bewaarders op hulle pos voor die deure; maar toe ons oopmaak en ingaan, was daar niemand nie.”

Lees volledige hoofstuk Handelinge 5