Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 5:33-42 Afrikaans 1983 (AFR83)

33. Toe die Raad dit hoor, was hulle woedend, en hulle wou die apostels doodmaak.

34. Een van die Fariseërs in die Raad, 'n man met die naam Gamaliël, wat as leermeester van die wet van Moses by die hele volk in hoë aansien was, het toe opgestaan en gevra dat die apostels 'n rukkie buitentoe gevat moet word.

35. Daarna sê hy vir die Raad: “Israeliete, julle moet versigtig wees wat julle met hierdie mense gaan doen.

36. 'n Tyd gelede was daar die geval van Teudas, wat in opstand gekom en daarop aanspraak gemaak het dat hy iemand van betekenis is. Hy het 'n aanhang gekry van omtrent vier honderd man. Hy is doodgemaak, en al sy volgelinge is verstrooi, en die opstand het op niks uitgeloop nie.

37. Daarna was dit Judas die Galileër, wat in die tyd van die volkstelling in opstand gekom het met 'n deel van die volk agter hom aan. Ook hy is om die lewe gebring, en al sy volgelinge is uitmekaar gejaag.

38. Wat die huidige geval betref, my raad aan julle is: Laat staan hierdie mense en laat hulle los, want as wat hulle wil en wat hulle doen, mensewerk is, sal daar niks van kom nie.

39. Maar as dit van God kom, sal julle hulle nie kan keer nie. Moenie dat dit dalk later blyk dat julle selfs teen God gestry het nie!”Die Raad het na hom geluister.

40. Hulle het die apostels ingeroep, hulle laat slaan en hulle belet om weer in die Naam van Jesus te praat. Daarna het hulle hulle losgelaat.

41. Die apostels het van die Raad af weggegaan, bly dat hulle bevoorreg was om ter wille van die Naam van Jesus vernedering te ly.

42. En hulle het nie opgehou om die mense elke dag in die tempel en in hulle huise te leer en die evangelie te verkondig dat Jesus die Christus is nie.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 5