Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 5:1-11 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Maar daar was ook 'n sekere man, Ananias, en sy vrou, Saffira, wat 'n eiendom verkoop het.

2. Met die medewete van sy vrou het hy van die verkoopprys vir hulleself agtergehou en net 'n gedeelte daarvan gebring en vir die apostels gegee.

3. Petrus sê toe vir hom: “Ananias, hoekom het jy jou deur die Satan laat omhaal om vir die Heilige Gees te lieg en van die verkoopprys van die grond vir jouself agter te hou?

4. Die grond was mos joune, en toe dit verkoop is, kon jy met die geld gemaak het wat jy wou. Wat het jou besiel om dit te doen? Jy het nie vir mense gelieg nie maar vir God.”

5. Toe Ananias dit hoor, het hy dood neergeval; en al die ander wat dit gehoor het, het baie bang geword.

6. 'n Paar van die jonges het nader gekom, hom toegedraai en gaan begrawe.

7. Omtrent drie uur later het sy vrou daar aangekom, onbewus van wat gebeur het.

8. Petrus vra toe vir haar: “Sê vir my, het julle die grond vir soveel verkoop?”“Ja,” sê sy, “vir soveel.”

9. Toe sê Petrus vir haar: “Waarom het julle ooreengekom om die Gees van die Here uit te tart? Die mense wat jou man begrawe het, is nou net weer by die deur, en hulle sal jou ook uitdra.”

10. Sy het onmiddellik voor Petrus dood neergeval. Die jongmanne het ingekom, gesien sy is dood, en haar by haar man gaan begrawe.

11. Die hele gemeente en al die ander mense wat hiervan gehoor het, het baie bang geword.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 5